Breiende vroue op Secunda maak komberse vir behoeftiges
“Ons het reeds sowat 30 handgemaakte komberse so vir Secunda Gratis & Verniet vervaardig,”
SECUNDA – Die naalde klik-klik waar ‘n groepie vroue om die tafel hekel en so deurentyd klets oor hul kinders, nuwe patrone en die nuutste kleure.
Dié is beslis ‘n gesellige byeenkoms met lekker eetgoed en stomende koffiebekers.
Eenkant is daar reeds ‘n stapel gehekelde vierkante wat wag om komberse te word.
Die Noizy Needlez-groep se getalle wissel soms, maar die gesigte is almal bekend. Hulle hekel en brei die pad al steek-vir-steek saam sedert die Noizy Needlez-wolwinkel by Redidge Sentrum (Palms) oopgemaak het.
“Ons hekel vir liefdadigheid,” vertel me. Christa Botma vanuit haar plekkie aan die hoofend van die groot wit tafel.
Die vroue is dit eens, hulle is lief vir hekel, vir mekaar se geselskap en doen graag iets goeds vir hul medemens. Nou kombineer hulle sommer alles saam met hul groepie.

Die wol word uit hul eie sak gekoop, maar me. Heleen van der Merwe, eienaar van Noizy Needlez, gee ook gereeld wol.
Sy het juis wol aan die liefdadigheidsorganisasie, Secunda Gratis & Verniet, gegee om onder behoeftige vroue te versprei.
Diegene wat wel kan hekel of brei, moes blokkies produseer wat dan deur die Noizy Needlez-groep aanmekaar gewerk is om groter komberse te vorm.
Van me. Van der Merwe se gereelde kliënte het ook blokkies hekelwerk en selfs volledige komberse ingebring.
“Ons het reeds sowat 30 handgemaakte komberse vir Secunda Gratis & Verniet vervaardig,” het sy vertel.
Sy beplan nog verskeie hekel-uitreike om mens en dier in nood te help.
Die Noizy Needlez-groep kom Woensdagoggende byeen.
Vir meer inligting, skakel me. Van der Merwe by 082 854 5909.




