Local newsNews

Maatjie Koch se familie is vir haar die belangrikste

Die Kochs het in die 80’er jare na Standerton verhuis en Vaalrivier-tak van die VLU sien haar deesdae gereeld.

Me. Maatjie Koch van Standerton sal haar storie moet ken om al die kleinneefs en –niggies by ‘n familiebyeenkoms te herken, want familie, ja familie, gaan uitgelê word.

Sy en haar oorlede man Danie, se drie kinders, Gert, Miets en Chris, is hoeka al uit die huis en ouma het sewe kleinkinders en vir die agterkleinkinders se getal, kan die twee hande nie gebruik word nie.

Maatjie is op Ermelo gebore en soos die lewe maar sy draaie gooi, het sy weer in dié geweste opgeëindig nadat Fochville vir 20 jaar haar tuiste was.

“O ja, ek is ‘n Hoëvelder,” aldus Maatjie.

Danie het vroeg reeds ‘n besigheidsin gehad wat gelei het tot sy eie steenmakery en ook ‘n konsessiewinkel by die Kloof Goudmyn.

Die appel het duidelik nie ver van die boom geval nie as ‘n mens haar een seun se entrepreneurskap in aanmerking neem.

Die plaasskooltjie op Hermina is waar twee van die Koch-kinders hul skoolopleiding gehad het.

“Die gebou staan nog daar,” het sy gesê.

As plaasvrou, was sy bedrywig met die seepkokery, slag, biltong- en worsmaak en het haar eie hoenders grootgemaak en ook in 1963 ‘n tak van die Vroue Landbou-unie gestig.

Saalperde is op kleinskaal op die plaas geteel en met melkbeeste geboer.

Die Kochs het in die tagtiger jare na Standerton verhuis en Vaalrivier-tak van die VLU sien haar deesdae gereeld.

Onder haar stokperdjies tel brei, hekel met naaldwerk wat voorrang geniet.

“Ek het baie geleer en leer nog by die VLU, wat beteken ‘n mens leer ook mense ken en smee vriendskapsbande.”

Die pad na ‘n man se hart gaan deur sy maag, so lui die spreekwoord en boeregeregte is haar kos.

“My man het altyd gesê hy eet nie ‘chow-chow’ nie.”

Gepraat van familiebyeenkomste.

Sowat 20 mense sou destyds op Fochville opdaag vir die geselligheid en dan het sy reggestaan en die vetgemaakte kalf is geslag.

Die Kochs gaan in September weer ‘n familiebyeenkoms hou en die kanse is goed dat tannie Maatjie vir iets ingespan gaan word, al is dit net om te vra:

“Van watter Kochs is jy?”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button