Punch Langeveldt op 74 in Pretoria oorlede
"Ons Vader het dit so beplan om ons geliefde Punch na sy hemelwoning te roep," het sy eggenoot, me. Sally Langeveldt, gesê.
Die bekende prokureur van Standerton, mnr. Punch Langeveldt, is in die ouderdom van 74 op 2 Oktober in Pretoria oorlede nadat hy sy stryd teen bloedkanker verloor het.
Mnr. Langeveldt het in 2017 die gesogte ‘Prokureur van die Jaar’-toekenning in Mpumalanga verower.
“Ons Vader het dit so beplan om ons geliefde Punch na sy hemelwoning te roep,” het sy eggenoot, me. Sally Langeveldt, gesê.
“Hy was ‘n wonderlike lewensmaat, ‘n vredemaker en ons sal hom onthou vir sy nederigheid en lojaliteit teenoor almal wat sy pad gekruis het.”
‘n Huldeblyk van die familie beskryf hom as begaan oor almal en nooit oor homself nie en dat sy onwrikbare geloof in sy God en sy medemens gemaak het dat hy altyd versoening kon bewerkstellig.
“Hy het diep spore getrap oral waar hy geloop het.
“Ons dank die Hemelse Vader vir die jare wat Hy hom vir ons gegun het, vir ‘n mooi voorbeeld van liefde wat hy so mildelik op ons uitgestort het.
“Herinneringe aan hom sal altyd ons kosbaarste besitting bly.”
Mnr. Langeveldt word oorleef deur sy vrou, drie kinders en ses kleinkinders.
‘n Gedenkdiens sal op Vrydag 11 Oktober om 11.30vm in die N.G. Kerk se Moedergemeente plaasvind.



