EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Geniet Kos, Kultuur en Kuierfees (KK&K) by Rondekerk in Oktober

Rondekerk se eenmanvertoning beloof om skreeusnaaks te wees

SECUNDA – Ds. Henry Stopforth van die N.G. Kerk se Rondekerkgemeente, het besluit om na ‘n lang tyd weer sy toneelklere aan te trek vir ‘n toneelstuk wat dié kerk op Vrydag, 25 Oktober opvoer.

Dié toneelstuk is deel van die kerk se Kos, Kultuur en Kuierfees (KK&K) en vind die aand voor die Rondefees, wat op Saterdag, 26 Oktober gehou word, by die kerk plaas.

Ds. Stopforth sal te siene wees in sy eenmanvertoning, Meneer, Professor, Dokter, Dominee.

Volgens ds. Stopforth, beloof dié toneelstuk om skreeusnaaks te wees en die gehoor te laat skater van die lag.

Daar sal egter ook iets wees waarmee elke persoon sal kan identifiseer en dit sal emosies roer.

Die vertoning begin om 6nm en sluit ‘n ete in.

Kaartjies kos R160 per persoon en is by die kerkkantoor beskikbaar.

Ds. Stopforth het al van kleins af begin toneelspeel en was vir 11 jaar deel van die Vaaldriehoek Drama-akademie.

In dié tydperk was hy te sien in verskeie produksies en verhoogstukke.

Hy het sy drama- en toneeleksamens met lof geslaag en gebruik die ondervinding en kennis wat hy daar opgedoen het, om ander drama-leerders en toneelgeselskappe op die verhoog en agter die skerms touwys te maak.

Hy het ook sy hand geoefen aan die skryf van vele toneelstukke en hy het onder andere vir die ATKV Jeugtoneelgeselskap toneelstukke geskryf en afgerig.

Ds. Stopforth was ook betrokke by verskeie kerke en skole se revue-opvoerings, operettes, passiespele en ander produksies.

“Ek het ‘n groot passie vir die verhoog en toneel en sien uit daarna om dié liefde weer lewe te gee,” het ds. Stopforth gesê.

Hy het ook al verskeie kinderteaterstukke geskryf en opgevoer, asook pantoniemes, en sal ook by die Rondefees te sien wees in ‘n kindertoneelstuk met Barney, Paw Patrols en Olaf.

Toegang vir die Rondefees is gratis en daar gaan genoeg vermaak vir oud en jonk wees.

Van die aktiwiteite wat by die Rondefees aangebied word, sluit in ‘n massiewe seerower-glybaan, ‘n vuurpyl, ‘n meganiese bul, gesigverf, ponieritte, springkastele en ‘n sandput met speelgoed.

Daar gaan ook ‘n trompoppie-optrede wees, ‘n optrede deur Hoërskool Oosterland se orkes en Fliekflooi.

Heerlike eetgoed wat pannekoek, hamburgers, ‘corn dogs’, boereworsrolle, jaffels, poeding, gebak, kerrie en rys, sosaties, ‘breakie buns’, lekkergoed en gevriesde etes insluit, sal te koop wees.

Daar gaan ook ‘n wit olifanttafel wees wat allerlei oudhede gaan verkoop, sowel as stalletjies wat handgemaakte produkte, speelgoed en plantjies verkoop.

Skakel die kerkkantoor by 017 631 3470.

Ds. Henry Stopforth by die sanger, Maryna, tydens die Rondekerk se Kersproduksie, Gouda en Cheddar in Betlehem.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button