Silwerjare op Bethal hou binnekort kermis
Indien jy graag wil help, hou gerus Saterdag 2 November vir die tehuis se kermis oop. Dit is ten bate van die tehuis se geldinsamelingsprojek.
BETHAL – SAVF Silwerjare Tehuis vir Bejaardes het onlangs hul algemene jaarvergadering gehou.
Dié vergadering is goed deur die gemeenskap bygewoon en ‘n diensbestuur om op die komitee te dien, is verkies.
Mnr. Hennie Jordaan is as voorsitter, me. Fatima Danka as ondervoorsitter en me. Gretha van Rensburg was as tessourier verkies.
Die res van die bestuurspan bestaan uit me. Annetjie Fourie, me. Ingrid Human, me. Mariana Holtzhauzen, mnr. Kruger Spies, me. Mariaan van der Westhuizen en mnr. Jan Uys.
Me. Magriet Scholtz, bestuurder van die tehuis, het die nuutverkose span sterkte toegewens.
“Hulle het ‘n groot taak op hande om te verseker dat Silwerjare Tehuis kan voortbestaan en steeds ‘n verantwoordbare diens kan lewer.”
Me. Scholtz het ook genoem dat dié tehuis 182 bejaardes, 250 kinders en 30 studente, ten spyte van die moeilike finansiële omstandighede, bereik.
Silwerjare se Vlytige Vinke en vrywilligers het op 27 September saamgespan en pannekoek en ‘n jumble sale van stapel gestuur om sodoende geld in te samel.
Hulle bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning en is opgewonde oor ‘n bedrag van R7 000 wat ingesamel is.
As jy graag wil help, hou Saterdag 2 November vir die tehuis se kermis oop. Dit is ten bate van die tehuis se geldinsamelingsprojek.
Dit sal by die Gereformeerde Kerk Bethal plaasvind.
Verskeie lekkernye en allerlei ander artikels wat sinoniem met ‘n egte kermis is, sal te koop aangebied word.
Kinders word nie uitgesluit nie en ‘n verskeidenheid aktiwiteite is ook vir hulle gereël.
Moet verseker nie die heerlike gebraaide wors en sosaties mis nie.
Persone of instansies wat graag ‘n stalletjie vir die dag wil bespreek, is welkom, daar is nog ruimte vir uitstallers.
Skakel Silwerjare se kantoor by 017 647 2545 of 082 873 1762 vir besprekings of enige navrae.



