Buurtwag help om brand te blus by huis in Kosmospark
“Met ons aankoms was die huis reeds in vlamme, en hoewel ons daarin kon slaag om die brand te blus, kon ons nie die skade aan die huis verhoed nie,” het mnr. Pretorius gesê.
AfriForum-buurtwag in Standerton het op Woensdag 2 Oktober kragte saamgespan om ‘n brandende huis in Kosmospark te help blus.
Die buurtwag is ontplooi nadat hulle in kennis gestel is dat die huis brand en hulp benodig word.
Die plaaslike brandweer is geskakel, maar het nie opgedaag nie.
Volgens mnr. Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is na die toneel gehaas toe die noodoproep ontvang is.
“Met ons aankoms was die huis reeds in vlamme, en hoewel ons daarin kon slaag om die brand te blus, kon ons nie die skade aan die huis verhoed nie,” het mnr. Pretorius gesê.
“Dit is belangrik dat gemeenskappe saamspan om doeltreffende reaksie tydens noodgevalle te verseker.”
Hy het die gemeenskap aangemoedig om by bestaande strukture betrokke te raak om mekaar sodoende te ondersteun.
Dié buurtwag het ook op 25 September inligting oor gesteelde skape van ‘n informant ontvang en die polisie in kennis gestel.
Die polisie het saam met die buurtwag uitgegaan en kon daarin slaag om vyf skape terug te kry.
Verdagtes is in hegtenis geneem.
“AfriForum se Standerton-buurtwag is beïndruk deur die samewerking tussen die gemeenskap en polisie, wat weer eens bewys wat vermag kan word as rolspelers saamwerk,” het mnr. Gerhard Moll, voorsitter van die buurtwag, gesê.
Om betrokke te raak, sms ‘Buurtwag’ na 45350 (R1).




