Landbougrond in omgewing benadeel deur erosieskade
Mnr. Steenkamp het die koerant op ’n begeleide toer oor sekere gebiede geneem en openhartig oor die uitdagings van ’n hedendaagse boer gesels.
Die Topfontein-pad se afdraai verby Verblyden Slaghuis, het die Standerton Advertiser op ‘n ekologiese ramp laat afkom.
Sekere gedeeltes van mnr. Willie Steenkamp se plaas is tot ‘n bewaringsgebied verklaar, met gereelde studies wat die gebied onder die radar hou.
Gras in moerasagtige, hoefystermeertjies vrek nou van die riete wat opgeskiet het, voorheen was dit panne.
‘n Nasionale dagblad het onlangs geraam dat byna die helfte van Suid-Afrika se unieke ekostelsels deur ekologiese ineenstorting bedreig word.
Volgens hulle het wetenskaplikes van die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitinstituut bevind dat habitatverlies, veranderinge wat aangebring is om die vloei van riviere te vertraag of te verander, oorbenutting van spesies, klimaatsverandering, besoedeling en indringers die grootste druk op biodiversiteit plaas.

Volgens mnr. Steenkamp, kan die pyp wat destyds skoon water na Leeuspruit gelei het, as die sondebok bestempel word.
Die plaas is ‘n klipgooi van Thuthukani en Tutuka Kragstasie af en water waarvan die aard oor bespiegel kan word, eindig op die plaas op.
Water vanaf Leeuspruit en Blesbokspruit vloei na die watervoedingsgebied, die Vaalrivier. Enersyds is dit moontlik rioolwater en water, wat vir huishoudings gebruik is, vanaf Thuthukani tot andersyds water van die kragstasie.
Die koerant het ondersoek ingestel en ‘n betroubare bron genader om die watergehalte vanaf Tutuka toe te lig.

Volgens die bron, is dit skoon water wat na die plaas vloei en hoewel daar ‘n lek was, is dit reeds by die Lekwa Munisipaliteit aangemeld en herstel.
Die ander moontlikheid van ‘n Sasol-pypnetwerk op ons buurdorp, bestaan ook.
Meeste van die boer se werkers het destyds na Thuthukani verhuis.
As dit reën en die spruit in vloed is, het hy geen ander opsie as om die werkers te gaan haal nie. Om dan by sy kudde uit te kom, is ‘n onbegonne taak weens die water van Thuthukani wat erosie veroorsaak.
Mnr. Steenkamp het die koerant op ‘n begeleide toer oor sekere gebiede geneem en openhartig oor die uitdagings van ‘n hedendaagse boer gesels.
Hy het ook bykomende foto’s aangestuur wat die erosieskade op die plaas uitwys.

Statistiek Suid-Afrika het aangedui dat huishoudings in die land se waterdienste tussen 2000 en 2018 afgeneem het.
Me. Lindiwe Sisulu, Minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, het op 12 Oktober op ‘n radionuusbulletin van RSG gevra dat boere saam met munisipaliteite moet werk om met watervoorsiening te help.
Me. Sisulu het by Agri SA se onlangse kongres in Pretoria gesê daar sal voortaan streng opgetree word teen myne en instansies wat waterbronne besoedel en volgens haar, het die agteruitgang van watergehalte ‘n regstreekse invloed op die landbousektor.




