Wilma Venter stel haar gesin eerste
Die opwagting van haar kinders het haar genoop om ’n tuisteskepper te wees en dit is geen vreemde gesig om haar, stootwaentjie en al, met dapper en stapper in die strate teë te kom, op pad om huishoudelike takies af te handel nie.
Me. Wilma Venter van Standerton versamel blou Delft-stukke sedert sy haar eerste salaris verdien het en die rakkies in haar huis getuig van haar liefde daarvoor.
Die rakkies spog met eiers, ‘n sout-en peperpotjie, klein klompies, ‘n melkbeker, teepot, koffiepot en koppies om daarmee saam te gaan.
“Ek is maar heilig daaroor,” aldus Wilma.
Haar huweliksbevestiging in Februarie vanjaar het ook ‘n Delft-tema gehad.
Die onthaal het by Tolbos plaasgevind en Wilma, met ‘n tradisionele trourok, het seker gemaak dat ‘n fotograaf dié oomblikke verewig, met haar kinders ook in die fotosessies.
Mnr. Dunkis Venter, ‘n veiligheidsbeampte by Sasol, is die man in haar lewe en hul destydse ontmoeting by gemeenskaplike vriende het die band verseël.
“Dit was liefde met die eerste oogopslag.”
Hy vertrek reeds vroegoggend na Secunda waarna Wilma die gebruiklike roetine volg om Elizna (7), Sion (5) en klein Daniélle te versorg.
Gepraat van heilig, moontlik is sy ook heilig daaroor om inwoners se klagtes oor riool- en waterprobleme op haar WhatsApp-groep by die relevante instansies aan te meld, as ‘n mens die beduidende aantal inskrywings volg.
Wilma woon reeds 33 jaar op die dorp, het aan Hoërskool Standerton gematrikuleer en vir ‘n paar jaar in die kleinhandelbedryf gewerk.
Die opwagting van haar kinders het haar genoop om ‘n tuisteskepper te wees en dit is geen vreemde gesig om haar, stootwaentjie en al, met dapper en stapper in die strate teë te kom, op pad om huishoudelike takies af te handel nie.
Sy beskryf haarself as ‘n sosiale media-aktivis en word baie oggende wakker gebel met haar groep wat haar bedrywig hou.
‘n Bykomende inkomste is die kruie-aanvullings wat sy van die hand sit.
“Baie mense op die dorp ken my as die pille-vrou, maar nou is daar nie meer tyd daarvoor nie.”
“Dit is bloot sakgeld.”
Vir ontspanning sal sy in die grond grou en aandag bestee aan Sion se groentetuintjie, nadat heelwat sandgrond verwyder is, wat in wording is.
Gesinstyd, veral oor naweke, word nie afgeskeep nie en as aartsoptimis, het sy ‘n hekel aan negatiewe mense en wil graag vir haar kinders die voorbeeld stel om mense met respek te behandel.
Haar oortuigings oor Standerton is soos volg verwoord:
“Kinders moet leer om respek vir hul omgewing te hê en ‘n skoon en netjiese dorp grootword.”



