Klarissa Joubert en Simoné Beyer het onlangs die 0/19 Suid-Afrikaanse hokkie-bokkiespan in Barcelona, Spanje verteenwoordig.
Die span het reeds die dag na hul aankoms in Barcelona, Lloret de Mar hul eerste wedstryd gespeel.
Die dogters het vier harde wedstryde in Lloret de Mar en Peniscola teen klub Egara, Iluro, Xaloc en CD Giner de los Rios gespeel, waarvan hulle twee gewen het.
Gedurende die toer was daar gelukkig ook tyd vir ontspanning en kon hulle onder andere ’n egte Spaanse Flamenco-dans bywoon, die Montjuic Kasteel en botaniese tuine besoek, asook die stad Valencia verken, waar hulle die “Calle Castillo” besoek het.
Hier is episodes van “The game of Thrones” verfilm.
Joubert het gesê: “Ek het nuwe vriendskappe gesmee en baie geleer, maar die belangrikste van die toer was dat ek my passie vir hokkie kon uitleef.
“Ek is dankbaar vir alles wat ek by EHS van hokkie kon leer, wat my toegerus en voorberei het om groot hoogtes in hokkie te kon bereik.”
Sy het haar borge mnr. Kobus Stander van KS Clothing en me. Wilna Drieselmann bedank.
Simoné is dankbaar vir die geleentheid wat sy gekry het om oorsee te kon speel en voel trots om te kan sê dat Suid-Afrika nie vir een oomblik hoef terug te staan vir ander lande se hokkie nie.



