Local newsNewsSchools

Juanita Fourie is al 13 jaar bemarker by Laerskool Goedehoop

Bemarker geniet kunsvlyt en lees in haar vrye tyd

SECUNDA – Me. Juanita Fourie is die afgelope 13 jaar die skakelbeampte en bemarker by Laerskool Goedehoop.

Sy geniet haar werk by die skool en glo dat die Here haar in dié posisie geplaas het sodat sy ‘n positiewe bydrae in die lewens van jong kinders kan maak.

Sy is dankbaar dat sy die voorreg het om in middae en gedurende skoolvakansies daar te wees vir haar twee dogters.

Me. Fourie was ‘n grafiese ontwerper by Bethal Fotodrukkers voor sy by die skool aangesluit het. Sy het ook al haar lyf reisagent gehou by die destydse Penta Reisagente.

Sy het op George grootgeword, maar in haar gr.11-jaar het sy na Secunda verhuis en sy het aan Hoërskool Oosterland gematrikuleer.

“Ek het lankal gesê ek sal ‘n jaar van my lewe aan die Here afstaan en ek het ná skool Diensjaar vir Christus gedoen,” het me. Fourie vertel.

Sy het in dié jaar saam met die diensjaarspan na Zambië en Swaziland gegaan waar hulle kerke gestig het en ander opgeknap het. Ná haar diensjaar het me. Fourie begin werk soek.

“Toe ek met skool klaargemaak het, het die meeste meisies wat gematrikuleer het, ‘n sekretaresse, skooljuffrou of verpleegster geword,” het me. Fourie vertel.

Sy het by die munisipaliteit aansoek gedoen vir ‘n werk as sekretaresse en dié werk gekry.

Sy het later haar vlerke gesprei en vir ‘n reisagentskap op Bethal gaan werk voordat sy by Laerskool Goedehoop begin werk het.

Sy en haar man, mnr. Dirk Fourie, het destyds op Bethal gewoon waar hy ook vir die munisipaliteit gewerk het voordat hy ‘n werk by Sasol gekry het.

“Hy het gesê voordat ons vanaf Bethal na Secunda trek, moet ek ook eers werk op Secunda kry.”

Me. Fourie het groot planne vir die skool en bepan om volgende jaar ‘n video-blogblad (vlog) vir Goedehoop te begin.

Sy is deel van die span wat die bekende Warrior Princess jaarliks in Secunda reël.

Dit is in Oktober vir die derde agtereenvolgende jaar by Lake Umuzi Kamp Oase gehou. Boonop help me. Fourie ook om die skool se ander geleenthede soos vroue-oggende, te reël.

Me. Fourie is lief vir skryf en lees en geniet dit om navorsing oor sekere onderwerpe te doen en oor bemarkingstegnieke op te lees.

Sy het, in die tyd toe sy as reisagent gewerk het, by die CVO-skool op Bethal se koerant betrokke geraak en het al die artikels vir dié koerant geskryf en inligting gekry.

Vandaar haar betrokkenheid by Laerskool Goedehoop se koerant, die Goedekrant.

In haar vrye tyd geniet sy dit om handvlyt en kuns te doen of om te hekel as haar twee dogtertjies haar nie te besig hou nie.

Me. Juanita Fourie is al die afgelope 13 jaar die bemarker en skakelbeampte by Laerskool Goedehoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button