SECUNDA – Personeel van Laerskool Kruinpark se nasorgsentrum wil hul leerders bewusmaak van herwinning en het ouers aangemoedig om die skool in dié inisiatief te ondersteun.
Me. Anet Peacock van Kruinpark se nasorgsentrum en koördineerder van dié projek, het reeds saam met die leerders sakke vol Coke-bottels ingesamel.
Die skool het die herwinbare produkte op Vrydag, 6 Desember aan me. Rika Lamprecht van Petrix Glass Recycling oorhandig.
Me. Lamprecht herwin hoofsaaklik glas, maar het onlangs begin om ook leë gaskoeldrankbottels en -blikkies te versamel en te herwin.
“Ons herwin net gaskoeldrankblikkies, nie ander blikprodukte nie,” het me. Lamprecht gesê.
Die glasprodukte wat me. Lamprecht herwin, moet skoon wees voordat dit in die houers wat op sekere plekke op Secunda, soos by die Eendedam, geplaas is, ingegooi word.
“Dit is nogal ‘n gemors as mense mayonnaise-bottels wat nog vuil is daarin sit,” het me. Lamprecht gesê.
Me. Peacock het gesê sy het met dié inisiatief begin toe sy onlangs by die skool op die rugbyveld geloop en blikkies en bottels optel het en gedink het ‘n mens kan net sowel die produkte herwin eerder as om dit net weg te gooi.
Sy het ander laerskole uitgedaag om ook produkte te begin herwin en sodoende ‘n kultuur van herwinning op Secunda te skep.
Ouers van Laerskool Kruinpark kan hul leë glasprodukte en leë gaskoeldrankblikkies en gas-koeldrankbottels van plastiek by die skool aflaai of glasbottels kan in die houers by die Eendedam gegooi word.
Me. Lamprecht het gesê ‘n pars sal baie kan help om die produkte mee te herwin. As jy wil help, of betrokke wil raak, skakel me. Lamprecht by 082 948 6231.




