Kosmos Aftree-oord benodig dringend twee opgeleide verpleegpersoneel
Die ouetehuis benodig dringend die dienste van twee opgeleide verpleegpersoneellede
Ds. Riaan Botha, wat op die direksie van die Kosmos Aftree-oord op Standerton dien, het ’n kort rukkie gelede verslag oor die situasie by dié ouetehuis gedoen.
“Dit was en is nog altyd die bestuur se vrees dat personeel of besoekers verswakte bejaardes kan infekteer,” het ds. Botha ter inleiding gemeld.
Hy het verwys na ’n tehuis in KwaZulu-Natal, waar soos berig, vier inwoners positief vir die koronavirus getoets het. Die bestuur wou ’n soortgelyke situasie op Standerton vermy. Tydens skofruiling op Sondag 29 Maart het die meerderheid van werkers die perseel verlaat.
Ds. Botha het benadruk dat dit ’n onwettige staking was omdat hulle as noodwerkers geklassifiseer is.
Kosmos Aftree-oord het reëlings volgens Wet 57 van 2007 vroeër getref om ’n noodtoestand aan te spreek. Vrywilligers het die ouetehuis se noodkreet nie geïgnoreer nie.
“Die reaksie was oorweldigend,” het ds. Botha bygevoeg. Hy het verskoning aangebied sou enigeen na vore gekom het en oor die hoof gesien is.
“Vrywilligers het huis en haard verlaat om hul intrek by die ouetehuis te neem,” het hy die liefdesdaad van opoffering beskryf.
Solidariteit se Helpende Hand en die Hervormde Kerk se diensorgane het ook gehelp.
Inwoners, hetsy huurders of lewensreginwoners, help ook al geruime tyd met allerlei take.
Voorts het die polisie en amptenare van die Department van Gemeenskapsontwikkeling ook, sonder ’n afspraak, opgedaag om inspeksie te doen. Die bestuurder kon hulle weens werksdruk nie te woord staan nie.
Volgens ds. Botha het meer as die helfte van die groep handskoene en maskers, soos aangebied, geweier.
’n Dreigement is volgens ds. Botha gemaak dat hulle beheer van die perseel oorneem omdat die tehuis enersyds ’n nie-winsgewende organisasie is en andersyds dat dit ’n noodtoestand is.
Die perseel is verlaat sonder dat enige inspeksie gedoen is. Kosmos Aftree-oord het daarna regshulp ingewin.
“Die bejaardes kry nog steeds die bes moontlike versorging,” het ds. Botha afgesluit.
Hy het almal, veral die vrywilligers wat ingetrek het, bedank vir hulp en ondersteuning.




