Helpende Hand maan gemeenskap om nie van bejaardes te vergeet tydens inperking
Dié beroep van Helpende Hand volg ná me. Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, gesê het dat die staat tans doen wat hulle kan, maar bure van bejaardes moet hulleself ook oor die bejaardes ontferm.
HOËVELD – Die bestuur van Helpende Hand het ’n beroep op die gemeenskap gedoen en in die besonder op kerke, families, bure en tehuise, om seker te maak bejaardes word steeds medies versorg, het genoeg kos en vereensaam nie tydens die 21 dae inperkingstyd nie.
Mnr. Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het kerke versoek om ’n lys van hul bejaardes, veral dié wat nie in ’n tehuis woon nie, op te stel en seker te maak dat die bejaardes gedurende dié tyd in Suid-Afrika fisies en emosioneel vesorg word.
Hy het die gemeenskap aangemoedig om Solidariteit Helpende Hand se hulplyn by 063 408 7887 te skakel as hulle weet van bejaardes wat hulp nodig het en swaakry.
“Ons is baie besorg oor ons ouer mense,” het mnr. Noëth gesê.
“ Ons kry verskeie oproepe oor oumense wat swaar kry.
“Hulle is in die eerste plek baie kwesbaar vir die Covid-19-virus en moet opgepas en geïsoleer word.
“Dit maak hulle egter in die tweede plek uiters kwesbaar vir verwaarlosing en vereensaming.
“’n Gemeenskap word getoets aan hoe hy die kwesbare en veral ouer mense in sy midde versorg.”
Dié beroep van Helpende Hand volg ná me. Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, gesê het dat die staat tans doen wat hulle kan, maar bure van bejaardes moet hulleself ook oor die bejaardes ontferm.
Me. Zulu het ook aangedui dat die staat meer maatskaplike werkers wil ontplooi om die nood van ouer mense te verlig.
“Aan die een kant het ons waardering dat die rol van maatskaplike werkers in die krisis erken word,” het mnr. Noëth gesê.
“Die staat se maatskaplike vermoë het egter so drasties oor die afgelope jare verswak dat ’n krisis soos hierdie nie net alleen deur die staat hanteer kan word nie.
“Die staat se maatskaplike stelsel word in krisistye werklik getoets.
“Jare se verwaarlosing vergroot ons huidige krisis.
“Ons sal die staat steun waar nodig, maar ons sal vanuit die gemeenskap op ’n groot skaal moet help.
“Daarom beroep ons die gemeenskap om ’n ekstra oog, oor en helpende hand vir ons ouer mense te wees.”
Die Solidariteit beweging het ’n noodfonds gestig om gedurende die Covid-19-krisis veral te help met maatskaplike nood.
Skenkings vir die noodfonds kan by die Solidariteit Korona-krisissentrum gemaak word deur die webwerf www.corona.org.za te besoek.
Die volgende dienste is by die webwerf beskikbaar: breinopkikkers vir bejaardes wat deur Senior Mind Moves (SSM) saamgestel is en stories vir bejaardes voorgelees deur
Elma Vertue in samewerking met Helpende Hand en SMM.
Mnr. Noëth het gesê met die stories wil hulle bejaardes ondersteun in die tyd van inperking en die stories beloof om die bejaardes te laat lag en te vul met nostalgie.
Die stories wat Elma voorlees is vanuit die pen van Dana Snyman, Piete Pieterse en Hans du Plessis.
Daar sal drie stories weekliks uitgesaai word op Maandae, Woensdae en Saterdag om 6nm.



