Local newsNews

Rosa wil deur Helpende Hand uitreik na ander

Nuwe voorsitter wil lede werf vir organisasie

SECUNDA – Me. Rosa Maia is onlangs verkies as die voorsitter van die nuwe Helpende Hand-tak wat op Secunda gestig is.

Me. Maia het haar nog altyd ontferm oor jong mense wat nie kos het nie, veral dwelmverslaafdes en het sowat 10 jaar gelede ’n pad met hulle begin stap.

Sy het ’n paar jaar gelede Secunda Hearts Givers, ’n groep wat na behoeftiges uitreik op Facebook begin.

Sy het met ander vroue in die gemeenskap wat soortgelyke welwillendheidswerk in die omgewing doen, hande geneem.

Me. Maia het gesê dié groep wat sy gestig het, is ’n hartsding.

“Dit is my dankoffer vir die Here omdat ek soveel het om voor dankbaar te wees,” het sy gesê.

Me. Maia gaan vir nou minder aandag aan die groep gee en meer op Helpende Hand se uitreikwerk na behoeftiges fokus en om die tak groter te maak en meer lede te werf.

Haar sagte hart vir dwelmverslaafdes het haar ook al hartseer besorg, veral wanneer sy hulle vir rehabilitasie gestuur het net om ’n paar weke later hulle weer op straat te sien en te weet hulle gebruik weer dwelms.

“Die ergste vir my was om kinders op straat te sien wat ek ken en wat my kinders se ouderdom is,” het me. Maia gesê.

Sy het vir jare kleuterskole en nasorgsentrums op Secunda gehad en het dus baie kinders op die dorp geken.

“Kinders maak verkeerde keuses in hul lewens en hulle maak foute,” het me. Maia gesê.

Baie van die jong mense wat aan dwelms verslaaf is, het vir haar gesê hulle wou dit net een keer probeer en dit was net een verkeerde besluit wat hulle verslaaf laat raak het.

“Hulle word dan deur hul families verwerp en ek kan verstaan hoekom, want hulle jok en manipuleer en besteel hul families, maar hulle land dan op straat.

“Ek probeer met hulle praat om hulle te laat verstaan dat die verslawing nie net ’n fisiese stryd is om te stry nie, maar ook ’n geestelike stryd,” het me. Maia gesê.

Sy meen met baie van dié dwelmverslaafdes moet mens oor en oor ’n pad loop.

“Jy help hulle en dan sien jy hulle koop weer dwelms, dan voel dit of iemand ’n stuk van jou hart uitruk en jy kan niks doen nie.”

Me. Maia het vir jare aan ’n oorerflike siekte, osteoartrose, gely.

Dié siekte het veroorsaak dat sy nie kon loop nie en sy was gedeeltelik verlam en dus bedlêend.

Sy moes nek- en rugopersies ondergaan en die herstelpad ná dié operasies en die siekte het vier jaar geneem.

Sy is dankbaar dat sy vandag weer kan loop en motor bestuur omdat dokters aanvanklik gesê het sy sou nooit weer kon loop of haar troeteldiere versorg nie.

Sy glo die Here het haar van dié siekte genees.

Me. Maia is lief vir diere en het verskeie diere op haar erf – van apies tot honde.

In haar vrye tyd geniet sy dit om te skilder.

“Helpende Hand maak my hande sterker en deur hulle wil ek steeds mense help.”

Me. Maia het belangstellendes genooi om Helpende Hand Secunda-tak se volgende vergadering wat binnekort gaan plaasvind, by te woon.

Vir meer inligting, skakel haar by 074 320 7906.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button