Mariska Strydom is nuwe Hoëveldrif DBV-voorsitter
Mev. Strydom is ‘n aptekersassistent wat in haar vrye tyd dien as die voorsitter van die DBV op Evander.
EVANDER- Met ‘n groot liefde vir diere en ‘n dryfkrag om die Hoëveldrif Dierebeskermingsvereniging (DBV) te laat floreer, het me. Mariska Strydom die uitdaging as nuwe DBV-voorsitter aanvaar.
Me. Strydom (39) is ‘n aptekersassistent wat in haar vrye tyd op die DBV se komitee dien.
Sy het groot geword in Mosselbaai en het 15 jaar gelede saam met haar man, Nick, hierheen verhuis.
“Ons is al 15 jaar getroud met agt kinders – twee honde en ses katte,” het me. Strydom geterg.
Die egpaar is die “trotse ouers” van twee Deense honde (Great Danes) genaamd Talula en Othello, en ook ses katte genaamd Los-lyf, Bruce, Morticia, Paimay, Quin en Dobby.
“Los-lyf het haar naam gekry omdat sy ongelooflik buigsaam is en Dobby se naam kom uit die Harry Potter-reeks, omdat hy altyd ons kouse steel,” het me. Strydom gesê.
Mnr. Strydom was oorspronklik die voorsitter van die DBV gewees tot hy weens werksverpligtinge uit dié posisie moes bedank.
Me. Strydom is toe tot hierdie amp verkies.
Sy dien al vanaf 22 Februarie as die nuwe voorsitter, maar was vóór dit reeds by die DBV betrokke weens haar groot passie en liefde vir diere.Sy het gevoel die DBV het meer ondersteuning van die gemeenskap nodig.
Sy bestee baie van haar persoonlike tyd by die DBV. Me. Strydom is elke etenstyd, tye ná werk en naweke daar om sodoende by die diere en die personeel in te loer en betrokke te bly.
Die DBV maak staat op donasies en geldinsamelingsprojekte, en die komitee dok selfs uit hul eie sakke op om die organisasie se deure oop te hou.
Me. Strydom het gesê die DBV sien gereeld die donker kant van dierewelsyn en moes hulle al verskriklike dieremishandelingsake ondersoek het.
Daar is ‘n wanbalans tussen die hoeveelheid diere wat vir aanneming beskikbaar is en die hoeveelheid goeie huise.
“Ons tree in die beste belang van die dier op,” sê mev. Strydom.
Die publiek kan graag met die diere by die DBV se hokke gaan speel en aandag gee, wat dinge ook met die aannemingsproses vergemaklik.
“Diere wat gered word, is ook baie meer liefdevol as hulle aangeneem word, omdat dit vir hulle soos ‘n tweede kans tot geluk is.”
Me. Strydom se toekomsvisie vir die Hoëveldrif-DBV is om die gemeenskap meer betrokke te kry, en om hulle meer bewus te maak van die rede hoekom die DBV daar is.
Sy het ook ‘n beroep op inwoners gedoen om nie hul diere in hierdie tyd van grendelstaat weg te gooi nie.
“Die mense moet net asseblief verstaan, diere kan nie self siek word van Covid-19, maar die virus kan wel op hulle pelse kom. Die beste ding wat mense nou kan doen vir hul diere is om hulle naby te hou, en seker maak hulle bly in ‘n skoon area, eerder as om hulle DBV toe te vat.”




