AfriForum versprei handreiniger en gesigmaskers na noordstreek-takke
Meer as 4 000 bottels handreiniger en 3 200 gesigmaskers word tydens dié projek na verskeie takke en buurtwagte in die drie provinsies versprei sodat hulle hul gemeenskappe kan ondersteun.
Handreiniger en maskers is onlangs na AfriForum se 53 takke in die noordstreek versprei nadat die organisasie die afgelope twee weke ’n nasionale projek van stapel gestuur het waartydens 15 000 bottels handreiniger aan verskeie polisiestasies, nooddienste en ouetehuise geskenk is.
Meer as 4 000 bottels handreiniger en 3 200 gesigmaskers word tydens dié projek na verskeie takke en buurtwagte in die drie provinsies versprei sodat hulle hul gemeenskappe kan ondersteun.
“AfriForum se noordstreek-takke bied deurlopend bystand aan hul gemeenskappe om te verseker dat gemeenskappe die nodige hulp kan ontvang om die verspreiding van Covid-19 te help voorkom,” het me. Marié Naudé, AfriForum se gemeenskapstrukturehoof vir die noordstreek, gesê.
“AfriForum is hier om ’n daadwerklike verskil te maak.
“Daar is tans landwyd ’n groot tekort aan dié basiese benodigdhede en daarom het AfriForum dié inisiatief begin.
“AfriForum se noordstreek-buurtwagte het verder verskeie hulpmiddelle om te bied soos ’n lugsteunvleuel en ongeveer 3 500 patrolleerders wat as oë en ore kan optree en tydens noodsituasies bystand kan bied.
“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om die petisie op die organisasie se Facebook-blad te teken sodat buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) as ’n noodsaaklike diens gelys kan word,” het me. Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek, gesê.



