Chantal Kotze skeer hare af omdat dit uitval
Vrou wil hare blou kleur as dit weer groei

SECUNDA – Me. Chantal Kotze (38) het op Saterdag, 11 April al haar hare afgeskeer weens ’n toestand genaamd Alopecia, waartydens hare in stukke uitval.
Me. Kotze het dié toestand sowat twee jaar gelede ook gehad en het naderhand by die Hair Clinic International in Johannesburg uitgekom waar sy produkte gekry het om aan te wend.
Haar hare het weer teruggegroei en die toestand het heeltemal weggegaan.
Dokters het toe gesê me. Kotze het dié toestand weens spanning gekry. Haar jongste kind was toe twee jaar oud.
“Ek het ’n vrou gesien wie se hare heeltemal uitgeval het en dit groei nie terug nie. Sy dra permanent ’n pruik,” het me. Kotze gesê.
Sy het besluit om sommer al haar hare af te skeer toe dit onlangs weer begin uitval het.
Sy glo dit is weer weens spanning dat die Alopecia weer opgevlam het. Syis bekommerd oor haar kinders wat weens die grendelstaat baie skoolwerk verloor. Haar kroos is 12 en vier jaar oud.

Sy is ook baie gekwel oor haar inkomste.
Sy het haar eie onderneming en doen drukwerk van die huis af.
Sy het foto’s van haar kaalgeskeerde kop op Facebook gedeel en mense het gedink sy het kanker en wou ’n fonds stig om haar te help.
“Ek is nie siek nie en ek voel glad nie sleg nie, dis net my hare wat uitval,” het me. Kotze gesê.
“Maar dit groei terug en dan gaan ek dit sommer blou kleur.”
Sy en haar ma, me. Reo White, het sedert die inperkingstyd begin om materiaalmaskers met gedrukte motiewe op te maak.
Hulle beplan om dié maskers teen R45 te verkoop om me. Kotze se onderneming ’n hupstoot te gee in die tyd wat sy nie ander drukwerk kan doen nie.
“Ek probeer maar om pro-aktief te wees.”




