Met die aankondiging van die inperking asook die verlenging daarvan, het Ligbron Akademie vir Tegnologie reeds verskeie planne in plek gestel om tydens dié tydperk onderrig voort te sit en leerlinge te ondersteun met hul skoolwerk.
Ligbron se personeel kan vanaf hul huise klasse vir leerders aanbied.
Mnr. Gerhard Brand, Ligbron se hoof, het gesê: “Huidiglik is daar ’n oorvloed van maniere om afstandsonderrig te doen, maar persoonlike kontak bly steeds die mees doeltreffendste wyse, al vind dit deur middel van video- en audioklasse plaas.”
Ligbron het verskeie opsies beskikbaar gestel, sodat elke ouer en kind kan besluit waar dit vir hul finansieel die beste sal wees.
“Innoverende denke en werkswyses is nog altyd Ligbron se visie en weens Ligbron se gevorderde tegnologiese netwerk in die skool, asook die landswye e-Learning netwerk, kon ons binne dae oorskakel na verskeie aanlyn platvorme.”

Die Departement van Basiese Onderwys het Ligbron genader om hulp om hul e-hulpbronne beskikbaar te stel.
Daar word tans van dié materiaal op verskeie opvoedkundige televisiekanale uitgesaai.
Die Mpumalanga Departement van Onderwys werk ook saam met Ligbron om e-hulpbronne te verspei en aan alle leerders beskikbaar te stel.
Ligbron se onderwysers ondersteun leerders deur middel van die volgende vyf platvorme:
- Lewendige Uitsending – Videokonferensielesse word deur tien onderwysers aangebied. Gr.11 en 12-vakke soos Wiskunde, Wetenskap, Afrikaans, Engels, Tegniese Wiskunde, Tegniese Wetenskap, Biologie en ook tegniese vakke word Maandae tot Vrydae tussen 9vm tot 5nm aangebied. Ligbron leerders skakel op aanlyn klaskamers in en die onderwysers en leerlinge kan hierdeur mekaar sien en hoor en word daar soos ouds interaktief gekommunikeer deur middel van vrae en besprekings.
- Ligbron Aanlyn Skool – Elke les wat lewendig uitgesaai word, word terselfdetyd opgeneem en aan die einde van die les na ’n aanlyn platvorm gestuur waar leerlinge weer na dié les kan gaan kyk. Onderwysers maak ook hul eie videos om op dié platvorm hersieningslesse op te laai.
- Leerderbestuurstelsel (LBS/LMS): Elke onderwyser het sy klas op ’n leerderbestuurstelsel opgestel waar hul huiswerk, toetse en materiaal vir die leerders opplaai. Leerders handig dit dan aanlyn in.
- Onderwyser aanlyn Data-sentrum: Ligbron het ’n data sentrum by die skool waar die verskillende departemente hul eie dokumente stoor en vanwaar onderwysers hul lesse en voorbereiding doen.
- Gemeenskapskole Uitreikprogram: In samewerking met groot maatskappye asook verskeie myn groepe en die Mpumalanga Departement van Onderwys, het Ligbron aangebied om aanlynlesse vir Gr.11 en 12 Wiskunde en Wetenskap aan te bied in Engels vir die 92 e-Learning skole wat deel vorm van die Ligbron e-Learning-projek. Leerlinge wat deel is van dié projek, skakel in na Wiskunde- en Wetenskaplesse wat tussen Maandae en Vrydae vanaf 10vm tot 3nm plaasvind. Meer as 300 leerlinge landwyd, skakel daagliks op dié aanlynskool in.
Met die vraag oor wat Ligbron se grootste bekommernis in hierdie tydperk is, het mnr. Brand geantwoord: “Liggies se gesondheid en welstand, asook die uitdagings van onderskeie huishoudings in die gemeenskap.”
Mnr. Brand het afgesluit: “Plaas jou vertroue op die Hemelse Vader en weet, vir die wat die Here liefhet, sal alles ten goede meewerk. Doen jou bes en alles sal in plek val.”



