Local newsNews

Waterbesparing lê twee vroue na aan die hart

Sy gee gereeld wenke vir mense oor hoe om water te bespaar

SECUNDA – Me. Leonora Crous en haar dogter, me. Candice Lessing, het die belangrikheid om water te bespaar, besef toe me. Crous vir ‘n ruk in die droogtegeteisterde Kaap gewoon het.

Me. Crous het in die tyd wat die Kaap waterbeperkings gehad het en in 2017 en 2018 deur erge droogte gegaan het, op die internet gelees van ‘n waterbesparingstoestel, ‘n ‘aerator’, wat in Duitsland gemaak word, wat in krane gesit word om water te spaar.

Met dié toestel, kan ‘n mens waterverbruik van 1.5 liter na 250ml verminder in die 10 sekondes van watervloei terwyl jy hande was.

“In die tyd wat ons waterbeperkings in die Kaap gehad het, moes jy in 90 sekondes stort, maak nie saak of dit winter of somer was nie,” het me. Crous gesê.

“Ons was beperk om net 11 liter water daagliks te gebruik, so ‘n mens kyk vinnig na nuwe maniere om water te bespaar en jy vang elke druppel water op.

“Nou is daar nie meer sulke streng waterbeperkings in die Kaap nie, maar dit is vir my baie erg om te sien hoe mense water vermors.”

Me. Crous wil ‘n verskil maak orals waar sy gaan en teruggee aan die omgewing deur mense te help om water te bespaar.

Sy gee gereeld wenke vir mense hoe om water te bespaar.

Sy wil mense aanmoedig om nou al te begin om water vir die toekoms te bespaar.

Me. Crous het vir jare by Sasol en ander ondernemings se menslike hulpbronne-afdelings gewerk en sy het ook vir vyf jaar in Katar gewoon.

“Dit was interessant om daar te bly en ‘n ander kultuur te sien. Terwyl me. Crous in Katar was, het sy verskeie ander lande wat Italië, Nederland en Kanada insluit, ook besoek.

Me. Crouse pendel sedert 2013 tussen Secunda en die Kaap en sy reis gereeld in Suid-Afrika rond om mense bewus te maak om water te bespaar.

Hul fokus is spesifiek op openbare geriewe waar baie water gebruik word.

Me. Lessing het op Secunda grootgeword en het ná skool by Sasol as beplanningsklerk gewerk terwyl sy vir haar graad in BA Sielkunde studeer het.

Sy het later by Proconics begin werk, maar deesdae help sy haar ma om bewustheid van waterbesparing te doen en bestee graag tyd met haar twee kinders.

Me. Crouse se ander dogter, me. Kayla Crouse, woon in die Kaap en voltooi tans haar diensjaar as arbeidsterapeut by die Piet Retief provinsiale hospitaal.

Me. Candice Lessing en me. Leonora Crous was hul hande by krane wat die toestel op het wat water bespaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button