Local newsNews

Pamela skryf boek wat kinders opgewonde maak om te lees

Vrou publiseer eerste kinderboek in Afrikaanse en Engelse weergawe sal binnekort beskikbaar wees

SECUNDA – Me. Pamela Stander het onlangs haar eerste kinderboek, Terug Maan toe, vrygestel.

Haar twee seuns, Jacques (7) en Christiaan (11) was me. Stander se inspirasie om dié boek te skryf.

Sy was van kleins af lief vir lees, maar het gemerk haar twee seuns is nie lief vir lees nie.

“Ek het onthou hoe ek dit geniet het om ’n sekere reeks boeke te lees toe ek ’n kind was,” het me. Stander vertel.

“As jy dié boeke gelees het, het jy jou eie avonture gekies en hoe die storie geëindig het.

“Toe ons kinders was het ons altyd ná skool biblioteek toe gehardloop om dié boeke te lees.”

Me. Stander het besluit om ’n kinderboek te skryf waar jy ook jou eie avontuur, karakter en einde van die storie kan kies.

“Ek wou kyk of ek ’n boek kan skryf wat my kinders ook opgewonde sou maak en sou aanmoedig om meer te lees.

“Ek het agtergekom met vandag se tegnologie wil kinders nie meer lees nie, hulle sien dit as huiswerk en nie iets om te geniet nie.

“Volgens navorsing is bewys dat die meeste Suid-Afrikaanse kinders wat in gr. 4 is, nie behoorlik kan lees nie.

“In gr. 4 begin die kinders reeds eksamen skryf en moet dan al kan lees en verstaan wat hulle lees.”

Die boek, Terug Maan toe, neem die leser op ’n avontuur saam met Kleintjie of Reus, as leerders van ’n skool op ’n uitstappie na die Ruimtevaart Unie gaan.

Die leser moet dan byvoorbeeld kies om terug na die bus te gaan om jou selfoon te gaan haal of die selfoon los en by die groep bly.

Die leser moet dan volgens sy keuse na verskillende bladsye van die boek gaan en sodoende sal elke keuse ’n ander einde van die storie hê.

“Die lesers kan teruggaan na die begin van die storie en dit weer lees en ander keuses maak,” het me. Stander gesê.

Me. Stander se jongste seun het saam met haar deur die proses gegaan terwyl sy die boek geskryf het en seker gemaak alles maak sin as lesers na die verskeie bladsye moet blaai volgens hulle keuses.

Toe haar seuntjie klaar die boek gelees en saam met me. Stander deur die proses gewerk het, het hy gesê hy soek nog so storie om te lees.

“Hy was baie teleurgesteld toe hy deur al die keuses en verskillende eindes gewerk het en daar nie nog was vir hom om te lees nie.”

Me. Stander beplan om ’n hele reeks van dié boeke, naamlik Jou Keuse Avonture, te skryf.

“Ek het vir my jongste seun een van die boeke gegee en hy is daagliks besig met die boek,” het me. Stander gesê.

“Hy gaan na sy pa toe in die Noord-Kaap vir die 21 dae-grendelproses en hy het die boek saamgeneem en gesê hy wil dit daar weer lees.”

Wat me. Stander van hou van die boek is dat dit kinders sal leer dat hul keuses gevolge het.

Me. Stander is in Pretoria gebore en het as kind baie rondegtrek na verskillende dorpe omdat haar pa ’n pastoor by die Volle Evangelie Kerk was.

Sy het die meeste van haar skoolloppbaan op Uitenhage in die Oos-Kaap bestee en het ná skool ’n hoër diploma in finansiële rekeningkunde verwerf.

Sy is later getroud en sy en haar man het hulself in Pretoria gevestig.

Toe haar seuns gebore is, het sy vir ’n ruk tuis gebly en ma gespeel en het later jare weer in finansies gewerk.

Sy werk al die afgelope twee en ’n halwe jaar by Evander Petroleum en Gas as die assistent vir die finansiële bestuurder.

Me. Diane Berning, eienaar van Evander Petroleum en Gas, is die borg van die boek en het me. Stander gehelp om haar boek gepubliseer te kry.

Me. Stander se boek sal binnekort ook in Engels uitgegee word.

“Ek het so baie navrae gehad van mense wat dit in Engels wou hê dat ek besluit het om dit in Engels ook te skryf,” het me. Stander gesê.

Sy het reeds idee’s vir haar volgende boek en het gesê dit gaan ’n spookstorie wees.

In haar vrye tyd geniet sy dit om te lees, tyd met haar kinders te bestee of flieks te kyk saam met haar gesin.

As jy dié boek in die hande wil kry, stuur ’n e-pos na joukeuseboeke@gmail.com en bestel een teen R75.

Me. Pamela Stander met haar eerste kinderboek, Terug Maan toe, wat beloof om enige kind op ’n opwindende avontuur te neem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button