NewsSchools

Ria Petzer se kleindogter neem oor by Kalies-naskool

Ria en Sabrina was dit eens dat dié spesifieke onderrig spesiale karaktereienskappe verg, hoewel hulle dit verskillend bewoord het.

Me. Ria Petzer van Standerton gaan na ‘n leeftyd van naskoolonderrig die leisels aan haar kleindogter, me. Sabrina de Beer oorhandig.

“Ek het tussen 33 tot 34 jaar na kinders in die naskool gekyk,” het Ria gesê.

Leerders by dié naskool by Laerskool Kalie de Haas het haar ‘tannie Klasie’ genoem, ‘n bynaam wat dateer uit die dae toe ‘n Standertonse prokureur, me. René van der Merwe, onder haar sorg was na skool.

“Ek het begin by Kalies toe my jongste dogter, Carien Kapp in gr. 1 en my oudste dogter, Enza Smith in gr. 8 was,” het Ria onthou.

Hulle het al die jare die Kalies-klasse gebruik om die naskool te bedryf en daar was reënbooglandgesiggies wat soms Afrikaans kon leer. ‘n Weeksdag sou vir Ria om 1.30nm begin en tot 5.30nm duur.

“Baie ouers het hegte vriende geword.”

Ria se man, Pikkie was ook heelwat by die naskool betrokke en hul kleindogter, Sabrina het besluit om die naskooltradisie in die familie te hou.

Sabrina is nie ‘n vreemdeling vir die dorp nie en was van gr. 8 tot gr. 10 by Hoërskool Standerton, voordat sy aan Hoërskool Kemptonpark gematrikuleer het.

Ria en Sabrina was dit eens dat dié spesifieke loopbaan spesiale karaktereienskappe verg, hoewel hulle dit verskillend bewoord het.

“Dit is hoogs bevredigend om leerders, wat so diep in jou hart kruip, aan te moedig en te leer,” het tannie Klasie gesê.

“Weens die druk waaronder onderwysers werk, kan daar by die naskool meer intens en rustiger aandag gee word,” was Sabrina se mening.

Sabrina is ook van mening dat ‘n mens gemotiveerd moet wees, uit die boks moet kan dink en het ook haar eie naskool bestuur voordat sy by haar ouma oorgeneem het.

Ria het dit onomwonde gestel dat liefde vir kinders nodig is om dié werk te doen.

“Ek groet met ‘n swaar, maar tevrede hart en is opgewonde oor die nuwe aftree-avontuur,”het sy mee afgesluit.

Baie duidelik het ouma en kleindogter meer as een ding in gemeen, naskoolonderrig bly ‘n roeping.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button