Kinross VLU-vroue praat oor tuinbou en gifstowwe
Belangstellendes kan volgende vergadering in Oktober bywoon
SECUNDA – Die Kinross VLU-tak het hul eerste byeenkoms sedert die inperking begin het, aangebied op Donderdag, 17 September by Garden Terrace Kwekery.
Lede van verskeie ander VLU-takke in die omgewing, wat Bethal, Secunda en Grootvlei insluit, het ook dié byeenkoms bygewoon en mnr. Kobus Kriel van Protek het die vroue toegespreek oor plantvoeding, insekdoders en plaagbeheer.
Mnr. Kriel het aan die vroue verduidelik hoe om van vlieë, miere, insekte wat plante en vrugte in ‘n mens se tuin opvreet en slakke ontslae te raak.
Hy het oor verskeie produkte gepraat wat minder giftig vir honde en kinders is en dus ‘n veiliger opsie is om plae te bekamp.
“Geen gif is egter 100 persent gifvry nie,” het mnr. Kriel gesê.
“Rose in jou tuin is ‘n goeie aanduiding van of daar ‘n swam in jou tuin is, die rose sal altyd eerste die swam kry.”
Hy het gesê dit is nou die tyd van die jaar om vir vrugtevlieë te spuit, want hulle maak die vrugte vrot van die binnekant af en as ‘n mens later spuit sal dit te laat wees.

Hy het ook oor die veiligheid en hoe om met gif te werk, gepraat en gesê as ‘n mens per ongeluk gif op jou vel gekry het, is dit belangrik om jou vel met koue water en seep te was en nie met warm water nie.
“Warm water laat die gif absorbeer terwyl kouer water die sweetgaatjies toemaak en die gif nie sal laat aborbeer nie.”
Die beste tyd om gif vir slakke te gooi is saans omdat hulle in die aande aktief is.
Dit is ook belangrik om die dooie slakke die volgende oggend op te tel en weg te gooi omdat slakke glo weer kan uitbroei en voortbestaan as die dop steeds daar lê.
Mnr. Kriel het ook oor die verskillende soorte kunsmis gepraat en verduidelik watter soort kunsmis vir plante, blomme en gras gebruik moet word.
Hy het gesê die beste tyd om onkruiddoder te spuit vir bossies op die plaveisel is vroeg in die oggend.
Die Kinross VLU-tak se volgende vergadering is op Donderdag, 8 Oktober op Secunda en belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.
Vir meer inligting, skakel me. Hannie van Niekerk by 072 834 15540.




