Local newsNews

Celia Goosen van Standerton draai nie doekies om oor wat belangrik is nie

“Hy het vir sy ma gesê dat hy op my besluit het nadat ons saam koffie gedrink het, het Jan die nuus aan sy ma meegedeel.”

Me. Celia Goosen van Standerton bring grondige onderwyskennis, sowel as bewese joernalistieke en kommunikasievaardighede tot haar direkteurspos by Ariella Ministries.

Sy is die dogter van wyle Koos en May Schoeman en het haar skoolloopbaan by Hoërskool Standerton voltooi voordat die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit se koshuisjare op haar gewag het.

Haar BA. Kommunikasie-graad het nie enige deure by die SAUK oopgemaak nie. “Ek wou so graag daar betrokke raak, maar hulle wou nie mense sonder ondervinding aanstel nie,” het Celia gesê.

Terug na die boeke vir ‘n onderwyskwalifikasie was die antwoord. Celia het ‘n nagraadse onderwysdiploma by Potchefstroom Universiteit verwerf en haar eerste pos by Hoërskool Klerksdorp aanvaar, waar sy hart en siel meegedoen het aan die Engelse klasse, toneelafrigting, reëling van funksies en ook sommer die snoepie behartig het.

Na haar pa se dood in 1985, het sy ‘n Honneurs in Opvoedkunde suksesvol afgelê.

Haar en Jan, met wie sy saam op die skoolbanke gesit het, se paadjies het weer gekruis na oom Koos se afsterwe. “Hy het vir sy ma gesê dat hy op my besluit het nadat ons saam koffie gedrink het.”

Dié voormalige boer en Celia is Julie 1986 getroud. Hy het op 11 Mei 2018 op die pad na Standerton by Leeuspruit verongeluk.

Tussen hul drie kinders Dawie, Janien en Jaco is Stephen en Janie gebore.

Net na haar pa se dood, het Celia terug na Standerton gekeer toe haar ma, tannie May se breinsiekte versorging genoodsaak het. Sy het Engels by Hoërskool Standerton begin gee.

“‘n Rukkie voor Jan se dood, het ons Namibië platgetoer, vliegtuig, trein en bus.” Voorheen het Afrikalande soos Namibië, Botswana, Zimbabwe om die Victoriavalle en die Okavanga Delta te sien ook aan die beurt gekom.

Sy was vir 16 jaar betrokke by die Gert Sibande Kollege op Standerton, eers as dosent in besigheidstudies, voordat die uitdaging van opvoedkundige spesialis op haar gewag het.
Celia het twee bejaardes in die Kosmos Aftree-oord vir sewe jaar gehad, haar ma en skoonma.

Haar bekering in 1995 het ‘n rol daarin gespeel dat sy geestelike musiek op bandjies opgeneem het, waarna tannie May kon luister.

“Ek het die verswakte afdeling al om die uur gebel om die bandjie om te draai,” het sy onthou. “Haar verstand het weer helder geword, en sy kon selfs praat.”

Haar program by Ariella Ministries neem soveel tyd in beslag dat daar nie eintlik sprake van stokperdjies is nie.

Dié organisasie se een been is Hearts4Standerton wat tans leerders by Laerskool Kalie de Haas kos gee, asook kinders in die Standerton-omgewing. Me. Amanda le Roux en haar vriendskap strek oor 43 jaar.

Celia het intussen dorp toe verhuis na ‘n ‘lock up and go’-tuiste.

Sy het Israel al drie keer besoek en die eerste keer wou pa Koos haar vir ‘n oorsese vakansie stuur met haar 21ste verjaarsdag. Daar was egter ‘n voorwaarde aan verbonde naamlik dat die Kersete bygewoon moes word daardie Desember.

Sy het die ooreenkoms so hittete nie nagekom nie toe haar vliegtuig eers die 24ste in Johannesburg geland het.
Celia het haar geloofspad soos volg verwoord: “Die eenvoud en krag van nederigheid en liefde is wat ons nodig het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button