Tannie Annatjie Marais van Vrede en musiekaande is sinoniem op Standerton
Tannie Annatjie het nie haar talente onder ’n maatemmer weggesteek nie en die orkes op Vrede en gepaardgaande musiekaande was haar kos.

Tannie Annatjie Marais van ons buurdorp Vrede se musikale talent is in die bloed.
Haar ouers het in die dertigerjare die huisorrel, viool en kitaar op die dorpie Douglas gespeel en die gesin het daarna na Hopetown verhuis.
Nadat sy matriek suksesvol in 1949 afgelê het, het sy en haar ouers vir jare gehore en gaste op funksies en troues vermaak.
Tannie Annatjie het aan die Paarl Opleidingskollege studeer en trekklavier in die orkes gespeel.
“Ek het in 1952 begin onderwys gee en was deel van Douglas se orkes,” het sy onthou.
Oom Dave en sy is op 19 Desember 1955 getroud met haar eggenoot wat haar tussendeur touwys in sy groot belangstelling, skiet, gemaak het.
As sersant in die Herbert-kommando op Douglas het sy haar deel gedoen.

Sy het sanglesse vir die destydse standerd 2’s tot matriekleerders gegee en was ook die LO-onnie.
Na die geboorte van haar oudste seun, het sy weer op Douglas begin onderwys gee, ‘n tydperk wat tot 1964 geskied het.
Laerskole op Saltlake en Van der Kloof het gevolg tot ‘n skool op Cornelia en alles in ag genome, het haar onderwysloopbaan oor sowat 50 jaar gestrek.
Tannie Annatjie het nie haar talente onder ‘n maatemmer weggesteek nie en die orkes op Vrede en gepaardgaande musiekaande was haar kos.
Daarbenewens is orrrelbegeleiding in die kerk ook nie bo haar vuurmaakplek nie. Deesdae word sy na partytjies genooi.
Dié veelsydige vrou het oor die jare op die plattelandse dorpe in netbal en tennis van die dorpspanne meegeding en met die skietgogga wat gebyt het, kon sy ook welslae behaal.
Oom Dave en tannie Annatjie het twee seuns, vyf kleinkinders en sewe agterkleinkinders na ‘n huwelik van 66 jaar.
Sy was ‘n boervrou van 1955 to 2000 en 2002 was die jaar wat sy haar as sakevrou op Vrede gevestig het. Ook het sy dekades lank aan die Vroue Landbou-unie (VLU) se Vastrap-tak behoort en handwerk soos brei, borduur, hekel en agter die naaimasjien gaan sit, het menige ure opgeneem.
“Ek het op ‘n stadium drie breimasjiene gehad waarmee ek ‘n ekstra geldjie verdien het,” het sy ook gesê. Lees, dans en toneelspeel val ook in haar kraal. “Die hoogtepunte van my lewe is net bietjie te veel om op te noem,” het tannie Annatjie mee afgesluit.



