Rolstoeltennisspeler van Secunda mik vir groot hoogtes
Jong leerder moes twee jaar wag vir spesiale tennisrolstoel.
SECUNDA – Susan van Niekerk (14), ‘n gr.8-leerder van Hoërskool Secunda se droom om te begin tennis speel, is uiteindelik verwesenlik.
Susan is nie enige 14-jarige tiener nie. Sy is sedert vyfjarige ouderdom in ‘n rolstoel. Susan se lae-rug is gebreek toe sy op vierjarige ouderdom saam met haar ma, me. Ilsa van Niekerk, haar tweejarige broer, en haar oupa en ouma in ‘n groot motorongeluk was.
Na maande in die hospitaal en ná dele van haar dikderm en dunderm verwyder is weens die ongeluk, was uiteindelik ontslaan, maar kon nie weer loop nie.
Susan kan onthou toe sy nog kon loop het sy gereeld haar regter- en linkerskoene omgeruil en aan die verkeerde voete gedra.
Sy het haar laerskoolloopbaan aan Laerskool Trichardt voltooi en in die begin van vanjaar met haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Secunda begin.
Sy het, toe sy in gr.6 was een van die voorste rolstoeltennisspelers, Mariska Venter, op televisie gesien speel.
“Ek het toe vir my ma gevra of ek ook rolstoeltennis kan begin speel,” het Susan gesê. Die gesin moes egter eers ‘n spesiale rolstoel vir Susan kry en in Februarie vanjaar kon sy uiteindelik begin tennis speel. Die spesiale rolstoel het einde verlede jaar gekom en lyk heelwat anders as die rolstoel waaraan Susan gewoond was.
“Die tennisrolstoel se wiele is baie breër en ‘n mens kan nie met daardie rolstoel by gewone deure in of uitgaan nie,” het Susan vertel. 
Haar tennisafrigter is me. Lezahn Greeff wat al vir jare op Secunda tennis afrig.
“Susan was ‘n pro vanaf die eerste dag wat sy met haar rolstoel op die baan gekom het,” me. Greeff gesê. “Haar krag en deursettingsvermoeë is vir my verbasend en haar gesig helder op elke keer wat sy ‘n tennisraket in haar hande het.
“Sy kla nooit dat sy moeg word op die tennisbaan nie en toe ‘n rolstoeltennisspeler van Tennis Suid-Afrika, Patrick Selepe, onlangs hier was om haar af te rig en wenke te gee, het sy geglimlag van die begin tot die einde.”
Me. Greeff en Selepe glo daar lê ‘n blink tennisloopbaan vir Susan voor en dat sy nog vele hoogtes gaan bereik.
“Sy het ‘n droom en ‘n passie vir tennis en ons wil haar help om dit te ontwikkel en bewaarheid,” het me. Greeff gesê. Sy was verbaas om te sien hoe Susan beweeg het in haar rostoel toe sy in Februarie met die tennislesse begin het.
“Met rolstoeltennis moet hulle heeltyd beweeg en sy vorder baie goed, want sy het net ‘n maand tennis gespeel, toe begin die inperking en ons speel nou eers vir ses weke tennis, so eintlik speel sy nou eers vir twee maande tennis.”
Mariska Venter is Susan se rolmodel en haar afrigters beplan om binnekort ‘n ontmoeting tussen die twee rolstoeltennisspelers te reël.
“Mariska se situasie is baie dieselfde as Susan s’n, sy het het ook haar rug gebreek in ‘n motorongeluk en sy het ook begin tennis speel toe sy 14 jaar oud was,” het me. Greeff gesê.
Tennisspeel vir Susan is meer en beter as wat sy verwag het. In haar vrye tyd geniet sy dit om kuns te doen, haar ma is immers ‘n kunstenaar wat kunsklasse aanbied. Sy geniet dit die meeste om met pastel te teken en sy speel ook klavier en gaan weekliks vir lesse.
Sy laat die akademie ook nie agterweë nie en was in die laerskool onder die top 10 akademiese presteerders.
Sy is nog nie seker wat sy wil doen eendag as sy groot is nie, maar haar pa, mnr. Johan van Niekerk, het voorgestel dat sy dalk rolstoele kan ontwerp omdat sy reeds kennis van rolstoele het en goed kan teken.



