Familie en vriende neem afskeid van tannie Marietjie Stroebel op Standerton
Vier kinders, Lori, Nelis, Innes en Rinus is uit die huwelik gebore en tannie Marietjie was ten tye van haar afsterwe, die trotse ouma van sewe kleinkinders.
Tannie Marietjie Stroebel van Standerton is op Woensdag 23 September in die Kosmos Aftree-oord oorlede.
Sy het in haar woonstel op 2 Julie geval, is op 17 Julie in Mar-Peh Mediclinic opgeneem en vir longonsteking behandel.
Tannie Marietjie is daarna in die siekeboeg opgeneem en mini-beroerteverwante komplikasies het tot haar afsterwe gelei.
Sy was die enigste kind van Coenraad en Johanna Bitzer en het op Bethlehem in die Vrystaat grootgeword.
Na skool het ‘n onderwysloopbaan by die voormalige Normaalkollege in Bloemfontein gewink en sy het skoolgegee op Bethlehem, Parys en ook by Laerskool Standerton.
Na haar huwelik met ‘n Bethlehem-inwoner, Cornelis Stroebel, het hulle in 1958 op Standerton gevestig, waar haar eggenoot ‘n tandartspraktyk gehad het.
Vier kinders, Lori, Nelis, Innes en Rinus is uit die huwelik gebore en tannie Marietjie was ten tye van haar afsterwe, die trotse ouma van sewe kleinkinders.
“Al die Stroebel-foto’s is om die kostafels,” het dogter Lori Swanepoel iets van die familie se meelewendheid verklap.
Tannie Marietjie het op haar dag aan die Standerton Tuinbouklub behoort, die Vroue Landbou-unie en kon ‘n potjie tennis oor naweke inpas.
Na haar man se aftrede, het die ouerpaar ‘n kort tydjie op Richardsbaai gebly voordat hulle na Sabie verhuis het.
Volgens Lori, het haar pa die vang van forelle geniet, asook die besoeke aan die Wildtuin.
Na sy afsterwe in 2001, het tannie Marietjie nader aan die kinders kom bly en Standerton weer haar tuiste gemaak, eers in ‘n woonstel voordat verblyf nege jaar gelede in die ouetehuis gekry is.
“Sy het dit geniet om saam met haar vriendinne te kuier, kaart te speel en ook kaartjies gemaak,” kan Lori onthou.
“Haar lewe het om haar kinders en kleinkinders gedraai.”
Familie en vriende, wat die hegte samesyn beleef het, het van haar afskeid op Vrydag 2 Oktober geneem.
Ds. Wihahn de Beer van die N.G. Kerk se Moedergemeente het die roudiens gelei en haar oorskot is veras.




