Local newsNews

Kankerlyer van Secunda laat seuntjie en verloofde na

Isabel Watson verloor stryd teen kanker

SECUNDA – Me. Isabel Watson (42) is op Maandag, 28 September dood.

Sy was aan die einde van 2014 met borskanker gediagnoseer en het in 2015 chemobehandeling ondergaan voordat sy ‘n dubbele mastektomie gekry het.

Die limfkliere onder haar arm is ook verwyder en sy het in 2017 bestraling gekry.

Me. Watson se gesondheid het egter in 2018 weer agteruit begin gaan toe sy met gewasse in haar baarmoeder gediagnoseer is. Sy moes elke 12 weke inspuitings ontvang en in Mei 2018 het sy begin sukkel met gereelde hoofpyne.

Vele toetse en dokter- en hospitaalbesoeke later, het medici ontdek dat sy drukking op haar brein het en dit het die hoofpyne veroorsaak.

Sy het ook vog op haar brein gehad en is sedertdien gereeld in en uit die hospitaal.Sy het in dié tyd 42kg verloor.

Me. Watson het aan die begin van die jaar steeds gewag om ‘n dreineringspyp in haar brein te kry om die vog te dreineer.

Sy het maandeliks ‘n staatshospitaal in Gauteng besoek om medikasie vir die pyn te kry en sy het gereeld ‘n neuroloog by dié hospitaal gesien.

Sy was teen Julie vanjaar so siek dat sy meestal bedlêend was en nie kon eet sonder om op te gooi nie.

Sy was ook blind in haar een oog en het net 45 persent sig in die ander oog gehad.

Me. Watson het in Augustus vir ‘n rukkie by die House of Mercy-versorgingshuis op Secunda gebly, maar wou eerder by haar man en kind wees en is weer huis toe.

Sy het egter op die dag wat sy dood is, weer by die versorgingshuis gewoon.

Die bestuur van die versorgingshuis, me. Shirley Coetzee en me. Ilse Cooper, het me. Tracey van Wyk van die ATKV vir haar hulp en ondersteuning bedank, asook Kansa wat in die beginstadium van me. Watson se siekte by haar betrokke was, bedank.

Hulle het ook die gemeenskap wat me. Watson en haar gesin finansieel ondersteun het of enige ander items geskenk het, bedank.

Me. Watson word oorleef daar haar verloofde, mnr. Christo de Klerk en hul negejarige seuntjie, Raven.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button