Local newsNews

Magdaleen van Staden van Secunda vaar goed in perdry en entrepeneurskap

Vrou laat haar nie deur gestremdheid onder kry nie.

SECUNDA – Me. Magdaleen van Staden (27) se gestremdheid keer haar nie om haar entrepeneursvaardighede te bevorder nie.

Sy is as kleuter met Leigh-sindroom gediagnoseer en is sedertdien gestremd. Dié sindroom is ‘n neurologiese afwyking wat met die verlies van verstandelike- en fisiese vaardighede gepaardgaan.

Me. Van Staden kon tot op die ouderdom van vyf jaar normaal funksioneer, maar daarna het haar gebruik van beweging agteruit gegaan en die regterkant van haar lyf aangetas en sy moes van voor af leer eet, praat en loop.

Sy woon tans in Kungwini Tehuis in Pretoria, maar is sedert die inperking begin het,by haar ouers, mnr. Gerrie en me. Rhodé van Staden op Secunda.

Me. Van Staden is nie een vir stilsit nie en het op Pinterest vir idees gekyk hoe om beursies te maak. Sy maak nou daagliks beursies in haar pa se leerwinkel op Trichardt en sy het al baie van dié beursies op sosiale media verkoop.

“Sy het spesifiek gekyk daarna om ‘n beursie te maak wat sy makliker kan oopmaak omdat haar regterhand gestrem is en sy dit nie ten volle kan gebruik nie,” het mnr. Van Staden vertel.

Een van sy werknemers help me. Van Staden om die leer te sny en aan mekaar te werk en me. Van Staden doen die res self. By die tehuis in Pretoria waar sy woon, maak hulle ook daagliks items wat hulle op markte verkoop, maar daar doen sy kralewerk wat sy ook baie geniet.

“Dié beursies wat ek maak, is klein genoeg om in ‘n vrou se handsak te pas en dit neem nie soveel plek op nie,” het me. Van Staden gesê.

Sy mis haar vriende by die tehuis en het dit in Mei oorweeg om terug te gaan, maar sy is ook baie familievas en het besluit om eerder tot volgende jaar by haar ouers te bly.

Sy hou daarvan om besig te bly en ry graag perd as sy elke derde naweek by haar ouers kom kuier. Sy ry saam met haar ma wat ‘n perdryskool buite Trichardt het.

Me. Van Staden het verlede jaar ‘n toekenning gekry vir haar prestasie in ruitersport toe sy vir die sesde agtereenvolgende jaar aan die Suid-Afrikaanse Ruitersportkampioenskap deelgeneem het.

Sy sou vanjaar vir die sewende jaar aan dié kampioenskap deelgeneem het as dit nie vir die koronavirus en die inperking was nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button