Hannelie van der Linde van Standerton is aan’t beplan vir ’n plek van afsondering vir vroue
Van die skilderye in die plaashuis het haar handtekening onder, tussen die familiefoto’s van die kinders op belangrike geleenthede.
In die stilte van ‘n plaas buite Standerton, woeker ‘n kunstenaarsiel, me. Hannelie van der Linde, met geduld om aan haar perfeksionistiese aard uiting te gee.
Haar man, Dual, se eiendom leen hom tot afsondering, ver van die stadsgeroesemoes, vir vroue op soek na stilte.
Hannelie beplan ‘n skuilplek vir diegene wat tot verhaal wil kom en ‘n wandelpaadjie na die bos, beklemtoon die eiesoortige natuurbelewenis.
Daar kan die drie kilometers tot by die Vaalrivier gestap word, twee damme betrag word en op die koppie gemediteer word.
Iewers in volgende jaar sal sy dit op die been bring, met privaatheid wat vooropgestel sal word.
“Dit moet nie kommersieel raak nie,” het Hannelie aangedui.
“My teikengroep is mense wat trauma beleef het soos ‘n geliefde se dood, ‘n kankerdiagnose, uitbranding of enige ander vorm van ontwrigting.”
Die groot bederf van ‘n boere-ete mag dalk die knoop vir voornemende besoekers deurhaak, of die perde, Biscuit, Lily en Lola se teenwoordigheid, of selfs ‘n massering wat gereël kan word.
Haar gedagtegang het tydens die grendeltydperk toenemend begin wentel om die voordele van wegbreek.
Hannelie is al die pad van Windhoek in Namibië af en het ingeburger op Standerton geraak.
Sy het onderhoudend oor Pilates-oefeninge gesels wat tussen ander bedrywighede ingepas word.
Sy het haar in die verlede op die skilderkuns toegespits en by twee verskillende leermeesters in Pretoria klasgeloop. Die mediums waterverf, pastelle, akriel en olieverf is almal gebruik om haar blik op die realiteit weer te gee.

Van die skilderye in die plaashuis het haar handtekening onder, tussen die familiefoto’s van die kinders op belangrike geleenthede.
“Ek het vervuld gevoel toe ek geskilder het,” het sy gesê.
Saam het die Van der Lindes vyf kinders, waarvan een in matriek, een in Pretoria, twee op universiteit en een wat saam met Dual boer. Sowel haar ma, as skoonma, woon naby wat verjaarsdae spesiaal maak as Hannelie vir die blommerangskik sorg.
Die lowergroen tuin leen hom tot sulke uitdagings.
Dan praat ‘n mens nie eens van Teddy, haar hondjie, wat een week by hulle en een week by ouma kuier. Die twee ander klein, liefdevolle viervoetiges het ook nie probleme as gaste opdaag nie.
Sy het in die nie so verre verlede modelwerk gedoen en was ‘n persoonlike assistent vir ‘n televisiekanaalgrootkop.
Stile in hierdie stadium sal die nadertrek van ‘n boek behels.
“Ek lees baie graag, enigiets wat op die waarheid gebaseer is.” Hannelie se kreatiwiteit het dormant gebly en die entrepreneursbloed bruis in haar are.



