Jo Black en Saarkie tree op by Laerskool Goedehoop op Secunda se manne-aand
Die organiseerders beplan om ’n gedeelte van Vrydagaand se wins ook aan ’n plaaslike oud-leerder van Laerskool Goedehoop wie ernstig in ’n ongeluk beseer is, te skenk.
SECUNDA – Laerskool Goedehoop se jaarlikse manne-aand het die skool se koffers met sowat R500 000 versterk.
Die geld is Vrydagaand, 16 Oktober, tydens die veiling op vanjaar se manne-aand gein.
Die funksie is in die skuur op mnr. Tjorrie Kruger se gronde gehou en het weer eens vir ‘n onvergeetlike aand gesorg.

Die veiling was weer deur grapmaker Andries Vermeulen behartig en het waardevolle rugby-memorabilia soos ‘n Japanese-koerant se voorblad oor die Springbokke se Wêreldbeker-sege, en ‘n Jo Black-kitaar ingesluit het.
Die Suid-Afrikaanse sangsensasie, Jo Black, en sy orkes, asook die meisie-groep Saarkie het vir die aand se vermaak gesorg.
Nog ‘n hoogtepunt van die aand was die fotosessies by ‘n replika van die Webb Ellis-wêreldbeker. Sommiges het egter gesweer dit is die ware Jakob.
Die aand is met ‘n vuurwerkvertoning afgesluit.

Die manne-aand het oor die afgelope ses jaar bykans R2-miljoen ingebring.
Dié geld word vir verskeie behoeftige kinders in die skool aangewend.

Verlede jaar is R50 000 aan ‘n slagoffer van die Hoërskool Driehoek-ramp geskenk.
Die organiseerders beplan om ‘n gedeelte van Vrydagaand se wins ook aan ‘n plaaslike oud-leerder van Laerskool Goedehoop wie ernstig in ‘n ongeluk beseer is, te skenk.
Volgens mnr. Kruger sal die res van die geld gebruik word om die grond langs Laerskool Goedehoop waarop die skool reeds getender het, te betaal.
Hy het sy dank teenoor almal wat die aand moontlik gemaak het, uitgespreek.
“Secunda se gemeenskap is in ‘n klas van sy eie, ons ploeg nie net terug in Goedehoop nie, maar ook in ons jeug wat ons land se toekoms is” het mnr. Kruger gesê.




