AfriForum gee terug aan gemeenskap op Secunda en Evander
Ondersteun organisasie en raak betrokke.

SECUNDA – Lede van AfriForum se Teks-tak het onlangs meer as een ton teer gebruik om slaggate op Secunda te herstel.
Dié aksie is deel van AfriForum se #OnsDorp-projek en die Teks-tak het vanjaar reeds meer as vyf ton teer aangekoop om slaggate te vul.
“Die herstel van slaggate is vir ons ‘n prioriteit en ons wil inwoners en skole wat soortgelyke probleme ervaar, aanmoedig om hul plaaslike AfriForum-tak te skakel,” het mnr. Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, gesê.
Dié tak het op Saterdag, 17 Oktober, soortgelyke volhoubare selfdoenprojekte by Hoërskool Evander aangepak.
Mnr. Jan du Plessis, voorsitter van dié tak, het gesê: “As ons as ‘n gemeenskap saamwerk om probleme op te los, sal ons suksesvol wees.”
Hy en die bestuur het ‘n beroep op inwoners van Secunda gedoen om by hul plaaslike AfriForum-tak in te skakel en sodoende ‘n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.



