Egpaar bied weer Kersliggie-projek op Bethal aan
Organiseerders wil behoeftige kinders bederf.
BETHAL – ‘n Plaaslike egpaar, mnr. Hennie en me. Michelle Rademeyer, bied vanjaar weer die Kersliggie-projek op Bethal aan.
Hulle het verlede jaar ook dié projek, wat geloods is om behoeftige kinders vir Kersfees te bederf, aangebied.
Die Kersboom sal op Saterdag, 12 Desember in Laerskool Marietjie van Niekerk se skoolsaal opgerig word en enige iemand is welkom om die geleentheid by te woon.
“Baie kinders het nog nooit ‘n Kersboom in hul eie huise gehad nie, wat nog te sê van ‘n geskenk,” het me. Rademeyer gesê.
Dié projek is oop vir alle kinders in Bethal-gemeenskap vanaf 0 tot 12 jaar.
Me. Rademeyer het gesê hulle gaan weer ‘n Kersvader, asook elwe hê wat die geskenke gaan uitdeel.
Daar sal ‘n aansit-ete wees en toegang en alles wat op dié dag gaan plaasvind, is gratis vir die gemeenskap.
Die Rademeyer-egpaar het egter inwoners se hulp nodig om te help om die dag moontlik te maak.
Hulle benodig ‘n groot Kersboom en versierings, klein geskenke vir seuns en dogters (ter waarde van R50), geskenkpapier en kleefband, kos soos maalvleis, rys, slaaibestanddele, klein broodrolletjies, margarien, plastiekmesse en -vurke en polistereen koppies, koeldrank en lekkergoedpakkies.
Hulle benodig ook verblyf vir die gaskunstenaars en donasies om hulle te bespreek.
Gaskunstenaars wat op dié dag gaan optree, sluit in Cathy Viljoen, Dalene Genis, Claudia van der Riet en Kevin Peters.
Die dag begin om 4nm en me. Rademeyer het mense wat wil help en ‘n bydrae wil lewer, asook dié wat hul kinders wil bring, gevra om haar te skakel by 060 491 7038.



