SECUNDA – Mnr. Nick Venter (67), eienaar van Symphony’s koffiewinkel, is op Saterdag, 24 Oktober aan ‘n brein aneurisme oorlede.
Secunda- en Bethal-inwoners sal mnr. Venter as ‘n vriendelike man onthou wat ‘n liefde vir roei en houtwerk gehad het.
Sy vrou, me. Julia Venter, het gesê sy familie was vir hom ‘n prioriteit.
Sy het gesê hy kon sy liefde vir mense en sy gasvryheid en liefde in Symphony’s uitleef.
Die egpaar is al die afgelope 19 jaar die eienaars van Symphony’s koffiewinkel en het daagliks vanaf Bethal, waar hulle gewoon het, na Secunda gery.
Hulle het in Oktober vanjaar hul 43ste huweliksherdenking gevier.
Volgens sy familie was hy al ‘n rukkie in die hospitaal waar hy teen ‘n aneurisme en bakteriële infeksie geveg het.
Die Ridge Times het in Desember verlede jaar ‘n berig oor mnr. Venter gedoen wat ‘n kranige roeier was en selfs sy Springbok-kleure in dié sport verwerf het.
Hy was ook lief vir houtwerk en het al die tafels in die koffiewinkel self gemaak.
Hy het dit ook geniet om te boer en het vir ‘n rukkie naby Bethal geboer.
Mnr. Venter se roeiprestasies het hom ook oorsee geneem toe hy jare gelede saam met drie ander roeispanmaats aan die Statebondspele in Engeland deelgeneem het.
Hy het in die laaste paar jare saam met mnr. Lean Pretorius, ook ‘n Bethaller, geoefen.
Mnr. Venter se doelwit was om vanjaar aan die Bergrivier-wedvaart, wat hy en sy spanmaat al verskeie kere voltooi het, deel te neem.
Sy begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
Mnr. Venter laat sy vrou, ‘n seun, twee dogters, ‘n skoondogter- en skoonseun en kleinkinders agter.




