Local newsNews

Uitstallers moet spring om te bespreek vir pastoriemark op Bethal

Geld sal aangewend word om die maatskaplike werker van Tutela Gesinsorg Bethal in staat te stel om spesialisdienste te lewer soos hulp aan kinders en hul gesinne uit die hele Bethal- gemeenskap.

Bethal se Pastoriemark word weer eens deur die N.G. Kerk se Oosgemeente vanaf 25 tot 27 November aangebied.

Dié mark is ten bate van Tutela Gesinsorg Bethal, voorheen as die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) bekend.

Besoekers kan vanaf 9vm tot 6.30nm die stalletjies besigtig, lafenis in die teetuin opsoek en wegneemaandetes bestel.

Bobotie, hoenderpastei en lasagne teen R50 per persoon is op die spyskaart en bestellings kan vooraf by me. Marié Botha by 082 461 4050 gedoen word.

Geld sal aangewend word om die maatskaplike werker van Tutela Gesinsorg Bethal in staat te stel om spesialisdienste te lewer soos hulp aan kinders en hul gesinne uit die hele Bethal-gemeenskap.

Volgens me. Marita Oosthuizen, kon die maatskaplike werker die afgelope jaar ondersteuning bied soos mediese sorg by pediaters, neuroloë en psigiaters, terapie deur spesialiste. oudiologie en spraakterapie, arbeidsterapie, forensiese assesserings in gevalle van verwaarlosing, fisiese- en emosionele mishandeling en seksuele misbruik, regshulp vir kinders wat byvoorbeeld slagoffers is van hul ouers se egskeidings, sowel as assesserings vir keurings in gevalle van pleegsorg- en aannemingaansoeke.

“Kinders se lewensgehalte word verbeter en ook die koers waarmee hul die toekoms tegemoet loop,” het me. Oosthuizen gesê.

Die organiseerders van die mark het entrepreneurs genooi om nog aansoek vir uitstalruimtes te doen.

Kitskosstalletjies is nie beskikbaar nie vanweë die teetuin wat eetgoed verkoop en afdelings soos klein koekies, droëvrugte, neute, sade, tuisgemaakte lekkers, silwer juwele, popklere en sekere naaldwerkitems is reeds volbespreek.

Skakel me. Oosthuizen by 082 291 3558 of e-pos na maritao@vodamail.co.za vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button