Skenk ’n noodboks vir boere wat als verloor het in verwoestende brande
In die boks word nie-bederfbare produkte soos toiletware, blikkieskos, beskuit, koekies, koffie, tee, suiker, langlewemelk en oor-die-toonbank-medisyne ingepak.

Ermelo Tuiskoop het onlangs die Boks-vir-‘n-Boergesin-projek begin om alle boere wat onlangs skade gelei het tydens verwoestende brande, asook dié in die droogtegeteisterde gebiede te ondersteun.
Me. Sandra Kritzinger, wat ook verlede jaar aan die stuur van die suksesvolle Boks-vir-‘n-Boervrou-projek was, is oortuig daarvan dat as elke inwoner net ’n klein bydrae maak, dié bederf-bokse die gemoed van vele moedelose boere sal verlig.
Menigte boere het al hul besittings in die brande verloor en met die projek beoog Tuiskoop om vir die boere asook hul werkers, noodbokse aan te stuur.
Meer as 100 000ha-weiveld is in die verwoestende brand in groot gedeeltes van die Vrystaat en Noord-Kaap vernietig.
In die boks word nie-bederfbare produkte soos toiletware, blikkieskos, beskuit, koekies, koffie, tee, suiker, langlewemelk en oor-die-toonbank-medisyne ingepak.
Me. Kritzinger het vertel dat die insamelings ook volgens ’n kontrolelys ingesamel en uitgedeel word en dat die vervoer en berging van die bokse reeds gereël is.
Sy het bygevoeg dat indien enige persoon kontantdonasies wil bydrae, hulle dit by Tuiskoop self kan inbetaal, en dat hulle die verantwoordelikheid vat om te verseker dat die gelde aan die regte persone oorbetaal word.
Geskenkbokse kan nog tot 15 November by Tuiskoop ingehandig word.
Met die projek beoog die organiseerders om tydens die Kersseisoen hoop aan dié gesinne te bring.
Vir meer inligiting oor die projek kontak mnr. Cobus de Vos by 063 823 9639.



