Oud-landdros van Bethal sterf aan kanker
Sy familie sal hom as ’n intelligente man onthou.
BETHAL – Mnr. Kobus Marx (91) wat vir jare ’n prokureur en landdros op Bethal was, is op Dinsdagaand, 27 Oktober, kort voor middernag, dood.
Volgens sy seun, mnr. Zarius Marx, het sy pa ’n geskiedenis van kanker gehad en is vyf jaar gelede van borskanker genees toe dit verwyder is.
Sy kleinkinders van Kaapstad en Knysna het nog vroeg in Oktober by hul pa en oupa op Roodepoort gekuier en opgemerk hoe goed hul oupa vir sy ouderdom gelyk het.
Hy het tot twee jaar gelede nog op Bethal gewoon voordat hy en sy vrou, me. Florence Marx (93) na hul seun en skoondogter op Roodepoort verhuis het.
Volgens mnr. Marx het sy pa tot sy dood nog self motor bestuur en sy banksake behartig.
“Hy het nie soos ’n ou man bestuur nie en hy was nog aan die gang en gesond,” het mnr. Zarius Marx gesê.
Hy het egter later in Oktober begin sleg voel en van pyn gekla. Mnr. Marx het sy pa ’n paar keer na die huisdokter op Roodepoort geneem.
Dié dokter het hom na ’n spesialis verwys en op 22 Oktober nadat ’n skandering gedoen is, het die dokters gesê mnr. Marx het kankerselle op sy lewer.
Sy vrou het hom op 24 Oktober vir ’n halfuur in die hospitaal besoek en sy seun het hom daagliks besoek. Net een familielid is daagliks toegelaat om hom te sien.
Me. Marx woon steeds by mnr. Zarius Marx en sy vrou op Roodepoort.

Mnr. Marx het op 27 Oktober om 3vm ’n oproep van die hospitaal gekry dat hy dringend daarheen moes gaan want sy pa wou hom sien.
Hy het van 3vm tot 6vm by sy pa gebly en met hom gesels en sy pa het vir hom gesê hy sien nie uitkoms nie en moet maar na sy Vader se huis gaan. Hy is kort voor middernag op dié dag dood.
Mnr. Marx het gesê dit was vir hom opmerklik dat sy pa, op sy hoë ouderdom en siek in die hospitaal, steeds sy telefoonnommer asook ander familielede s’n, uit sy kop kon onthou.
“My pa het ’n baie goeie geheue gehad en was ’n ongelooflike intelligente man,” het mnr. Marx gesê.
Mnr. Kobus Marx het vier kinders en moes reeds twee seuns, mnre. Tonie Marx en Kobus Marx, beide op die ouderdom van 52, aan die dood afgestaan het.
Mnr. Kobus Marx (senior) word oorleef deur sy vrou, die seun by wie hy gewoon het, mnr. Zarius Marx en sy vrou, ’n dogter, me. Beaurenza Hamman, wat in ’n aftree-oord in Namibië woon en nege kleinkinders en nege agterkleinkinders.
Mnr. Marx het gesê hy sal sy pa onthou as iemand wat altyd netjies aangetrek was.
“Ek het hom nog nooit kwaad gesien nie, hy het net omgekrap geraak as sy rugbyspan, die WP of die Springbokke, verloor het,” het mnr. Marx gesê.
“Baie mense wat hom geken het, het hom as ’n ware heer beskryf.”
Mnr. Marx was een van 13 kinders. Twee van sy broers, wat in die 90s en 80s is en ’n suster in haar 80s, leef nog.
Sy roudiens vind op Donderdag, 5 November om 9.30vm vanuit die NG Kerk Horison-Noord-gemeente op Roodepoort plaas.
Vir meer inligting, of as jy die diens wil bywoon, skakel mnr. Zarius Marx by 083 379 6829.



