Storm waai huisies op Trichardt se dak af
Instansies en gemeenskap reik uit na bejaarde egpare.
TRICHARDT – ‘n Storm op Woensdagaand, 28 Oktober, wat met reën, weerlig en sterk wind gepaard gegaan het, het ‘n dak van twee huise by die Visser-woonstelle op Trichardt afgewaai.
Die twee bejaarde egpare, mnr. Johan en me. Ilomie Botha en mnr. Robert en me. Cathy Nel, kon gelukkig in ‘n gastehuis en by hul kinders tuisgaan.
Mnr. Cobus Carpenter, eienaar van die Contractors Guesthouse, het vir hulle verblyf beskikbaar gestel totdat hul huise weer reg is.
Me. Botha het vertel hoe haar man omstreeks 5.30nm op Woensdagaand hul motor in die erf getrek het en hoe sy nog gebid het dat die Here hom moet beskerm en dat dit nie moes begin hael tot hy weer binne die huis is nie.

“Die wind het reeds erg gewaai toe hy die motor ingetrek het,” het sy gesê.
Die egpaar het ‘n slag gehoor en toe reën.
“Toe het die water by die ligte en teen die mure begin afstroom.”
Mnr. Botha het buitentoe gehardloop en gesien die dak is reeds van hul huis afgewaai.
“Alles was nat, ons klere, kaste, matte, alles,” het mnr. Botha vertel.
“Ek het vir my vrou gesê sy moet op Zello roep vir hulp.”
Instansies, nooddienste en die gemeenskap wat die oproep gehoor het, was vinnig op die toneel om te help.
Hulle het handdoeke en skottels gebring en seile op die dak gesit sodat die egpare se huise nie verder kon natreën nie.
Die elektrisiteit het twee keer afgegaan en een van die egpare se hondjies het op ‘n stadium weggehardloop, maar iemand het haar weer gekry en teruggebring.
Me. Botha het vertel hoe sy nog, voordat die dak afgewaai het, vir hulle kos gemaak het en ‘n hoender in die oond gehad het.
“My hart is nog seer, ek het nou die aand, na al die gebeure, in die bed gelê en in die stilligheid gehuil, maar wat kan ‘n mens doen? Ons is dankbaar dat nie een van ons seergekry het nie,” het me. Botha gesê.
Die Nel-egpaar het televisie gekyk toe hulle die slag gehoor het.
“My vrou het gesê sy dink daar is iets fout by my stoortjie wat buite die huis is, ek moet gaan kyk,” het mnr. Nel vertel.
“Sy het opgekyk en gesê die dak is af, ek het vir haar gesê: ‘Nee man, dit kan nie wees nie’.”
Mnr. Nel het toe buite gaan kyk en gesien hul huis se dak is wel weg.
“Toe ek terugkom in die huis, het die water van die mure en uit die ligte gestroom. Ons het die bed probeer skuif en skottels daar gesit sodat die water nie op die bed val nie, maar dit was swart, vuil water wat by ons kamer ingestroom het. “Ek het in my lewe nog nooit so iets beleef nie.”

Organisasies soos AfriForum, en die gemeenskap het vinnig ingespring en reeds begin om die dak reg te maak.
Secunda Gratis en Verniet het kos en komberse geskenk en lede van verskeie ander instansies het hulle te hulp gesnel op die aand van die gebeure.
Mnr. Jan Du Plessis, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak, het mnr. Jaco Horn van MCR Insleepdienste vir hul bydrae bedank, asook die gemeenskap wat gehelp het of ‘n bydrae gelewer het.
Beide egpare het al die nooddienste en almal wat hulle gehelp en ondersteun het, bedank. Die huise kort nuwe teëls omdat die matte te veel waterskade gekry het.
Dié huise behoort aan Govan Mbeki Munisipaliteit en volgens die egpare doen die munisipaliteit al vir jare nie meer instandhouding nie.
‘n Verteenwoordiger van die munisipaliteit het die huise besoek nadat die dakkr afgewaai het en het glo vir die egpare gesê die munisipaliteit het nie geld om dit te hersel nie.
As jy die egpare wil ondersteun deur boumateriaal of geld te skenk, skakel mnr. Du Plessis van AfriForum by 061 731 3581 of om Secunda Gratis en Verniet te ondersteun, skakel me. Fiona Pelman by 066 279 6069.




