Standerton se Eda van Rensburg wil Pretoria toe trek
Eda het by die voormalige Goudstadse Onderwyskollege studeer en haar eerste aanstelling was by Laerskool Ermelo.
Me. Eda van Rensburg van Standerton het in die onderwys opgeëindig, hoewel kleindogtertjie-ideale anders daaraan uitgesien het.
“Ek gaan eendag die tannie op die radio word,” het sy op drie vir ma, Hazel, gesê. Siembamba toentertyd het haar verbeelding gaande gehad.
Na 10 jaar by Laerskool Kalie de Haas in die gr. 1, 2 en R-klasse, is die kryt op die witbord skoongevee.
‘n Stewige getal onderwysers in die familie, vier van haar broers het ook onnies geword.
Die enigste roos tussen die dorings, het op 12-jaar al ‘fudge’ vir die broers gemaak. Eda het by die voormalige Goudstadse Onderwyskollege studeer en haar eerste aanstelling was by Laerskool Ermelo.
Daar het sy haar man, Fanie wat aan kanker oorlede is, ontmoet en hulle is in 1988 getroud. Fanie se verplasing na Bethal as speurtakbevelvoerder en uiteindelik na Standerton in die teenkorrupsie-eenheid, het haar ook laat klasgee by Standerton Primary School vir 13 jaar.
Haar verbintenis, met onderbrekings, met Kalies strek vanaf 1974, eers as dogtertjie in gr. 2 in die klaskamer, toe skoolgaande kinders daar, tot leerkrag.
Die Van Rensburg-kinders, Francois en Priscilla het hul onderskeidelik as radio-omroeper en ‘script writer’ bekwaam.
Eda is vas oortuig dat menseverhoudinge en lewensvaardighede op ‘n jong ouderdom die hoeksteen van onderrig moet wees.
Immer prakties, hou sy haarself na die afsterwe van Fanie besig met opbouende stokperdjies soos tuinmaak.
Sy dood in Augustus 2018 het getuig van ‘n dankbaarheid teenoor die Allerhoogste vir nog ‘n dag dat hy geleef het.
“Hy sou slegs nog twee maande leef en toe word dit vyf maande.”
Naaldwerk is nie hoog op die prioriteitslys nie, hoewel die gewone soos some insit, nate toewerk en knope aanwerk, gedoen word.
“Ek wil eerder bak en brou,” het sy ook gesê.
Sy is die soort gasvrou wat sorg dat onverwagte besoekers verwelkom word met iets uit die kombuis, en selfs beskuit by die afskeid.
Na 24 jaar in dieselfde huis, propvol herinneringe, wil Eda na Pretoria verhuis.
Die te-koop-bordjie is reeds buite.
“Hoewel dit lewensveranderende besluite behels, sal jarelange bure, kollegas, familie en getroue vriende se koestering altyd opreg waardeer word,” het sy nadenkend afgesluit.



