Hoërskool Ermelo het op 2 November hul jaarlikse streepbaadjieseremonie in die EHS-Ouditorium aangebied.
Die ouers van vanjaar se gr.11-leerders kry die geleentheid om die gr.12-streepbaadjie aan hul kinders te oorhandig.
Hiermee saam word verskeie formuliere voorgelees en met die aantrek van die baadjies stem die leerders in om die verantwoordelikhede as leiers na te kom soos uiteengesit.
Die ouers wat die baadjie vir die leerders aantrek onderneem ook, saam met hul kind, om die reëls, verantwoordelikhede en verwagtinge van Hoërskool Ermelo te respekteer en hul kinders te ondersteun in die leierskapsrol wat hy of sy inneem in hul gr. 12-jaar.
Die streepbaadjie is simbolies vir die leierskap wat die Erries hoog op prys stel – dit is nie net die Errieraad wat as leiers gesien word nie, maar al die matriekleerders.
Hulle word onderskei van die res van die leerders, omdat hulle die Erries moet lei.
Mej. Adriani, EHS se eerste skoolhoof, het in 1917 die baadjie ontwerp en dit is ingestel as die eerste skoolbaadjie van Hoërskool Ermelo (toe nog genoem die Uitkomstskool).

Slegs die erekleure-leerders het die effe-groen baadjie gedra.
In 1996 het die streepbaadjie weggeval as gevolg van die hoë koste van die baadjie, omdat die materiaal nie meer beskikbaar was nie.
In 2010 het wyle mnr. Bok Martins die streepbaadjie weer ingestel.
Die wit van die baadjie is simbolies vir reinheid en hoop, terwyl die groen moed en hoop simboliseer.
Tydens die seremonie is die Skoolbybel en -vlag aan 2021 se presidente oorhandig.
Die Bybel is oorhandig aan Anke de Kock as simbool van geloof.
Dit het gepaard gegaan met die wens: “Glo in God en glo in die toekoms. Neem dit as ’n lig vir jou pad – ook vir die Erries.”
Arend Fourie het die skoolvlag ontvang. Die vlag simboliseer eenheid in wil en eenheid in strewe vir Hoërskool Ermelo. Daarmee saam ook die wens: “Neem dit en bou ’n beter toekoms vir ons skool en ons land.”
Die streepbaadjie lê die Erries na aan die hart en dit is elke jaar vir die gr. 11 leerders ’n groot hoogtepunt om hul baadjies te ontvang.



