Standerton se Gideon en Veronica speel klaar met mites oor motorfietsryers
Gideon het die klubleuse van liefde, lojaliteit, eer en respek vir jou medemens toegelig en natuurlik ook die fiets.
Dit was sulke tyd met die gebrul van ‘n superfiets toe Gideon in sy bakkie, en Veronica Slabbert op ‘n Yamaha R1 1000 CC, vir die onderhoud opgedaag het.
Die president van Immortal Guardians op Standerton en sy vrou beoefen dié sportsoort al geruime tyd, hoewel hulle dit as ‘n stokperdjie beskou.
“Beroepsjaers doen dit van driejarige ouderdom af,” het Gideon gesê.
Hy is van mening dat die Volksrust-pad die beste roete is om oop te trek, met die N3 kort op sy hakke.
Geen geheime gaan verklap word oor die hoogste spoed wat al bereik is nie.
Die Slabberts was dit eens dat die vryheid wat gepaardgaan met motorfietsry moeilik verduidelik kan word.
“Dit is jy, jou fiets, die oopte en die adrenalien,” het Gideon gesê.
Duidelik nie ‘n bang haar op sy kop nie, ook nie op hare nie.
Veronica is slaggereed vir die ‘breakfast runs’ en ‘day jolle’ met ‘n kam wat vorendag uit die binnebaadjie kom, as die helm afgehaal word.
Die egpaar het saam vyf kinders, met ouderdomme wat wissel tussen ses jaar en 14 jaar.
“Al die kinders is mal oor motorfietse,” aldus Veronica.
Maar gaan, gaan hulle saam om die byeenkomste by te woon.
“‘n Mens het jou gesin, dan het jy jou motorfietsfamilie,” het sy ook gesê.
Hulle het die ‘rof en onbeskof’-persepsie oor motorfietsryers die nek ingeslaan, maar erken dat klante by die supermark soms opsy staan as hulle in motorfietsdrag opdaag.
Gideon het die klubleuse van liefde, lojaliteit, eer en respek vir jou medemens toegelig en natuurlik ook die fiets.
“Die oomblik as jy respek vir jou fiets verloor, lê jy op die teer,” het Veronica gesê.
Klublede se onderlinge, sterk band maak dat hul omsien na mekaar en hulle kinders, en nuwelinge ondergaan ‘n inisiasieproses waar die grondwet verduidelik word.
Veiligheid is van belang en as daar drank by ‘n ‘rally’ betrokke is, oorhandig jy jou sleutels aan iemand anders.
“Jy kan nie ‘n prys op jou lewe sit nie,” het Veronica bygevoeg.
Immortal Guardians gaan op 28 November die sanitêre produkte wat vir die Kosmos Aftree-oord ingesamel is, oorhandig.
Hulle gaan ook op 5 Desember die ‘Toy Run’ ondersteun, wat met Lone Buddies deur Penta Nissan gereël word.
Wat meer kan ‘n mens sê?
“Motorfietsry is eenvoudig heerlik,” was Gideon se bydrae.



