Standerton se Frans Vermaak is passievol oor slange
Rinkhalse kom algemeen op Standerton voor en volgens Frans, kan dié slange se lengte 1,5m bereik.
Vir Kosmospark se slangvanger, mnr. Frans Vermaak, gaan dit oor opvoeding en om slange weer in die natuur los te laat.
Frans betwyfel hoegenaamd nie dat slange gevaarlik is nie, maar is van mening dat dié reptiele ‘n belangrike rol in die voedselketting vervul.
“Hulle hou die muis-, rot- en paddabevolking in toom, sonder dat jy gifstowwe hoef te gebruik,” het hy gesê.
Hy het die eerste rinkhals hierdie seisoen reeds gevang en nie geweifel om hom in ‘n slanghok die afgelope winter in die motorhuis te hou nie.
“Ek maak seker hy is gesond, voordat ek hom terug in die natuur sit.”
Geen melding kan van die spesifieke plekke wat uitgekies is, gemaak word nie omdat slange soms op die swartmark verkoop word.
Slangvangers het permitte en lisensies nodig om dié gemeenskapwerk te doen.
Frans se werk by Seriti pas hom soos ‘n handskoen omdat die myn juis sy brandweermanondervinding kan gebruik om die Standerton-gebied van hulp te wees.
Hy woon elke drie jaar ‘n kursus in Johannesburg by waar hul opgeskerp word oor wat hul te wagte kan wees.
African Reptiles and Venom lei hulle onder meer op om slange met die nodige respek te behandel.
Rinkhalse kom algemeen op Standerton voor en volgens Frans, kan dié slange se lengte 1,5m bereik.
Hy het hul lengte demonstreer.
Rinkhalse en kobras verskil in dié sin dat eersgenoemde lewendige kleintjies baar, terwyl al die ander kobraspesies eiers lê.
“Sodra die kleintjie gebore word, is dit giftig.”
Hy het die rinkhalstande op 4mm geskat en net ‘n krapmerk is nodig om die gif in jou bloedstroom te kry.
“Rinkhalse klamp jou en swart mambas ‘nip’ jou.”

Frans het gepraat van tussen 15 tot 28 kleintjies wat jaarliks in April gebore word, net voor die winter.
“As die eerste minustemperatuur op Standerton aangeteken word, is hulle weg.”
Hulle kan ook meer as sewe keer vervel, afhangende van hul dieet.
Om ‘n slang uit sy gat te lok, moet ten minste 25mm reën val.
“‘n Mens sal nie sommer ‘n slang op ‘n helder, perfekte en skoon dag teëkom nie.”
Bewolkte weer is die gunstige tyd vir slange om na kos te soek, tussen 9vm en 4nm.
“Ek het nog nooit ‘n geval gehad van ‘n persoon wat dood is na ‘n rinkhalsbyt nie.
“Ek ‘nek’ nie slange nie, want jy kan gepik word.
“Dit gebeur in ‘n oogwink.”
Frans het ook gesê dit is die slangvanger wat die risiko loop om gepik te word.
“Hy maak bakkop, spoeg, speel ‘dood’ en laat los sy ingewande net voordat hy pik.”
Hy het rinkhalse as akteurs beskryf met die speeldooddrama.
Die geloof dat slange jou jaag, is bevraagteken.
Volgens hom is die swart mamba en skaapstekers vinnig en laasgenoemde word gewoonlik op ‘n drafstappie gevang.
Frans is uiteraard fiks, waarvan sy gereelde oefening getuig want daar is soms ongewone plekke om by uit te kom.
Daar is geen ‘buddy system’ betrokke nie, sy tegniek is om alleen die slang met die slanggereedskap te vang.
‘n Slangtang en -hoek, wat duur toerusting is, word gebruik as die slang gewaar is, voordat dit met ‘n kombers of baadjie toegegooi word.
“Jy bied hom ‘n tydelike wegkruipplek en glo my, hy bly net daar.”
Daarna sal die slang, wat nou rustig is, in ‘n boks gesit word en merendeels die volgende dag losgelaat word, hoewel sommige boere ‘n plek sal aandui.
In die ou dae was net ‘n hark en brandweerklere sy enigste toerusting.
“Mense kom op slange per ongeluk af.”
Na ‘n rinkhalsbyt, is daar nie salf aan te smeer nie.
“‘n Mens gaan dadelik dokter toe as jy gepik is of veearts toe, as jou hond gepik is,” het Frans mee afgesluit.



