ERMELO – Die ErrieUnie is in 2013 deur mnr. Jan Grey gestig, met die doel om Hoërskool Ermelo met verskeie opgraderings te ondersteun.
Dié unie is ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat deur ledegelde, borge en skenkings die skool se fasiliteite opgradeer en aanbouings doen waar nodig.
Behoeftige leerders van Hoërskool Ermelo word ook deur die projek ondersteun met skooluniforms, sportklere en -toerusting.
Me. Allison van der Walt is onlangs as die voorsitter verkies en mnr. Ignus van Rooyen as ondervoorsitter.
Die ander lede op die raad is mnr. Wally van der Walt, me. Kobie Bodenstein, me. Suretha van Rooyen, me. Mariaan Rust en mnr. Pieter Grobler.
Me. Van der Walt vertel dat die ErrieUnie uit oud-Erries, ouers, onderwysers en ondersteuners van Hoërskool Ermelo bestaan.
“Enige persoon met ’n liefde vir die skool kan deel word van die ErrieUnie,” het sy gesê.
Van die projekte wat die ErrieUnie vanaf 2013 voltooi het:
- Die onthaallokaal by die hoofpaviljoen is opgeknap
- Sitplekke is op die hoofpaviljoen aangebring
- Geslotekringtelevisiekameras is geïnstalleer
- Witborde is in klaskamers aangebring
- Die Astro-hokkiebaan is gebou
- Die opgradering en instandhouding van die rekenaarsentrum
- Die skoolgebou en koshuise se dakke is geverf
- Die nuwe kafeteria het sy dek en bankies bygekry
- Die unie is ook betrokke by die krieketakademie
Die ErrieUnie, in samewerking met Mnr. Johan (Mielies) Grobler, het ‘n uitreikprojek geloods waarin Usuthe-kitspap aan die leerders van skole in die omliggende omgewing uitgedeel word.
“Dit is werklik ons missie om die skool op te bou tot een van die top skole in die land, en sodoende ’n toekoms vir ons kinders en kleinkinders te verseker.”
Me. Van der Walt het almal wat belangstel om by die ErrieUnie aan te sluit, aangemoedig om 084 767 5010 of 082 395 0055 te skakel.



