Waterlekke by skouterrein op Standerton mors met eindstryd van beisigheidsliga
“Die grond is nou versadig en water syfer na die veld deur,” het die krieketklub se woordvoerder, mnr. Werner Mouton, gesê.
Standerton Krieketklub se eindstryd in die besigheidsliga word gekortwiek deur water wat al vier maande op die Standerton Skouterrein voorkom.
Die Piet van den Berg-ovaal is tans nie gereed om wedstryde aan te bied nie.
Volgens inligting, is nagenoeg vier waterlekke by die skouterrein opgemerk.
“Die grond is nou versadig en water syfer na die veld deur,” het die krieketklub se woordvoerder, mnr. Werner Mouton, gesê.
“Die hele buiteveld aan die skouterrein se kant is onder water.”
Hulle het reeds ’n sloot gegrou om die water weg te lei na ’n ander sloot, maar daar is net te veel water.
“Dit is ’n groot gemors,” het mnr. Mouton ook gesê.
Die Standerton Advertiser het ’n foto van die nat kol op die krieketveld bekom.
’n WhatsApp-boodskap is op Dinsdag 17 Augustus aan die kommunikasiebestuurder van die Lekwa Munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, gestuur.
Die verwysingsnommer, 22241, soos aangemeld by die brandweer, is ook genoem.
Me. Mtshiselwa het dieselfde dag geantwoord dat die probleem na die relevante departmente deurgegee is.




