AfriForum het onlangs ondersoek ingestel en watermonsters by verskeie damme, riviere en rioolwerke in die omgewing geneem.
Mnr. Jan du Plesssis, voorsitter van AfriForum se tak op Secunda, het gesê die rioolwerke op eMbalenhle werk glad nie en daar is geen werkers nie.
Die kabels by dié rioolwerke is glo gesteel.
Mnr. Du Plessis het gesê van al die rioolwerke wat hy besoek het, lyk die aanleg op Trichardt die beste.
“Die gras is gesny en die geriewe word goed in stand gehou,” het mnr. Du Plessis gesê.
Dié rioolwerk het egter al sy maksimum kapasiteit bereik en daar is reeds uitbreiding gedoen.
“Die infrastruktuur is nooit aangepas vir al die nuwe ontwikkeling wat tans daar plaasvind nie,” het mnr. Du Plessis gesê.
Volgens hom is konstruksie aan die siviele kant van die projek onlangs by Kinross se rioolwerke voltooi, maar die meganiese en elektriese deel begin eers aan die einde van Augustus.
“Dié aanleg is tans bokant sy maksimum kapasiteit, maar die gebied is netjies en die beskikbare toerusting is in ’n werkende toestand.”
Die groot aanvraag veroorsaak egter probleme vir inwoners van die Afghanistan informele nedersetting wat daagliks geblokte rioolprobleme ondervind.
“Munisipale werkers het die lyne oopgemaak toe ek die monsters geneem het, maar baie ongewenste items soos doeke, plastieksakke, soliede materiaal en kledingstukke is in die rioolstelsel gevind.”
Die strome water wat van Afghanistan af deur nabygeleë plase vloei, is ’n probleem vir boere omdat die water weens besoedeling nie gebruik kan word nie.
“Die koeie skenk geboorte aan misvormde kalwers en het gereeld miskrame as die diere aan dié spesifieke strome water blootgestel word.”
Die pompstasie op Evander het onder vandale deurgeloop en werk ook nie meer nie, en by die rioolwerke op Evander is daar min van die toerusting wat werk.
Mnr. Du Plessis het reeds dié probleem ses weke gelede by Govan Mbeki Munisipaliteit aangemeld en slote word tans gegrou om die rioolwater af te voer.
Heinings is om die pompstasie opgerig om dit van verdere vandalisme te beskerm.
Besoedeling is oor die algemeen ’n probleem in die meeste dammetjies en strome op Secunda wat vanaf Sasol gevoer word.
Die opgaardam in uitbreiding 22 op Secunda se stelsel is tans buite werking.
“Omdat Secunda direk deur Randwater gevoer word, gaan Secunda ’n waterprobleem hê as Randwater ’n probleem het, want Secunda het dan geen buffer nie,” het mnr. Du Plessis gesê.
Volgens hom sal kostes vir verbeterings en herstelwerk aan die opgaardam sowat R850 000 wees.
“eMbalenhle se rioolwerke is heeltemal verniel. Daar is geen toerusting in ’n werkende toestand nie, al die kabels is verwyder of geplunder en ek is toegang geweier.”
Riool wat in die strate afstroom is ’n gereelde probleem in eMbalenhle en mnr. Du Plessis het gesê inwoners moes al noodgedwonge afvoerslote na die strate grou om die riool uit hul erwe te kry.
Mnr. Donald Green, hoof van kommunikasie by Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê dit is in die munisipaliteit se begroting om die rioolstasies te onderhou en op te gradeer.
Hy het ook gesê die vier rioolpompstasies op Secunda is almal in ’n werkende toestand en dat reëlings om drie van die rioolpompstasies op Kinross wat tans buite werking is, reg te maak, tans getref word.
Die munisipaliteit is ook tans in die proses om herstelwerk aan te bring aan twee van die rioolpompstasies op eMbalenhle wat nie werk nie,asook twee op Evander.





