Laerskool Standerton het ’n ryke geskiedenis wat ’n aanvang geneem het met die verdeling van die ‘Public School’ in drie afsonderlike skole.
Die Middelskool (Laerskool Standerton) het op 11 April 1928 in die skoolgebou, waar hul hul tans bevind, met ’n totaal van 370 leerders ingetrek.
Mnr. R.A. Meyers was Laerskool Standerton se eerste hoof van 1928 tot 1937 en die volgende hoofde daarna was mnre. J. Kriel (1938-1943), T. Jooste (1944-1952), F. Greybe (1953-1970), H.J. Petzer (1971-1986), C.C. Coetzee (1986-1995), H.A. Martins (1996-2010) en mnr. C.C. Hamman is sedert 2011 Laerskool Standerton se hoof.
Laerskool Standerton heg groot waarde aan hul geskiedenis wat oor 93 jaar strek.
Die gevoel van trots en dankbaarheid oor die suksesse wat behaal is, word volledig aan die seëninge van die Here toegeskryf.
Laerskool Standerton het al puik prestasies op akademiese-, sport- en kultuurgebied gelewer.
Duisende Stannies het oor die jare op die stoepe gestap, buite gespeel, in die klasse geleer en aan aktiwiteite deelgeneem.
“Ons skool se ruggraat was nog altyd puik hoofde, uitstekende onderwysers en personeel, ondersteunende en baie positiewe ouers en talentvolle leerders, wat net hulle beste doen,” het die skool gesê.
“Vandag het ons skool ’n spoggerige, goedversorgde en netjiese terrein, met splinternuwe dakke.”
Daar word ook gekyk na beter watertoevoer na die skool, asook om die skool onafhanklik van die huidige kragprobleme te maak.




