ERMELO – Leerders van Ligbron Akademie vir Tegnologie het onlangs aan die ATKV-Tienertoneel by die Roodepoort Teater in Johannesburg deelgeneem.
Die produksie, Kettings, is die verhaal van ’n dogter wat haarself moet vergewe.
Deur die loop van die storielyn praat sy met drie oorledenes uit haar verlede, en deur dié gesprekke kom sy tot verhaal met haar verlede, wat haar in staat stel om meer kettings van haarself af te skud.
Janneke de Villiers het die hoofrol vertolk en Lohan Coetzee het die rol van haar beste vriend vertolk.
René Walters het die rol van haar ma vertolk en Marzé du Plessis die rol van haar suster.
Die toneel is ’n kombinasie van digkuns, sang, ballet en drama.
Me. Mari Molefe van Heerden en mnr. Pietie Beyers was die beoordelaars.
Janneke de Villiers het ’n brons medalje vir haar spel in Kettings ontvang en me. Renske van Niekerk, ‘n onderwyser van Ligbron, het vir die stelontwerp en inkleding ’n silwer medalje ontvang.



