Die manne het baie lank gewag vir die voorreg om vir Robbie Wessels op ’n verhoog te sien optree.
Laerskool Kruinpark se oorspronklike datum sou 15 Augustus 2020 wees, maar ’n week nadat hulle opgewonde met Robbie se besprekingsagent gepraat en vasgemaak het, het Suid-Afrika in hul eerste Covid-19-inperking inbeweeg.
“Vir die res van 2020 het die regulasies en tydsberekinge nie toegelaat dat ons ’n tyd kon vind waar die manne lekker saam met mekaar kon kuier nie,” het me. Anita De Beer, skakelbeampte vir Laerskool Krunipark, gesê.
Versigtig opgewonde het Laerskool Kruinpark saam met Robbie Wessels se besprekingsagent ’n voorlopige datum in Augustus vanjaar gekies, met die hoop dat Suid-Afrika se inperkingsreëls ’n klein samekoms sou toelaat.
“In die week voor die groot optrede kon jy die opgewondenheid voel. Die mans het daarna uitgesien om by Stoepstories bymekaar te kom, mense was opgewonde dat Robbie Wessels na Secunda toe gaan kom en ons is seker dat selfs Robbie Wessels opgewonde was om weer na byna twee jaar, op ’n verhoog te kon klim,” het me. De Beer gesê.
Laerskool Kruinpark het vir Fireplace Roadhouse bedank vir hul onderteuning as hoofborg en vir die kosborde wat die mans ontvang het.
“Ons kan getuig dat niemand honger was nie. Baie dankie aan Stoepstories wat nooit terugstaan om hul plaaslike gemeenskap te ondersteun nie en weer julle plek aan Kruinpark beskikbaar gestel het vir die hele dag.
“’n Groot dank aan Etienne Smit wat deur die dag gesing en vermaak verskaf het, dit is lekker as ons plaaslike kunstenaars ook geleentheid het om op te tree,” het me. De Beer gesê.
“Hotel@Secunda lê ons ook na aan die hart. Baie dankie dat julle aan Robbie Wessels en sy hele span verblyf uit die boonste rakke verskaf het.
“Grubhouse het natuurlik gesorg dat Robbie Wessels en sy span die volgende oggend ’n ordentlike ontbyt kon geniet voor hulle die lang pad terug huis toe aandurf,” het me. De Beer gesê.
Nanouk Textiles en In the Buff het vir elke man ’n besonderse promosionele item verskaf en ook seker gemaak dat Robbie Wessels ordentlik met ’n eie van sy soort-geskenk vir sy optrede bedank word.
’n Manne-aand sal nie ’n manne-aand wees sonder die plaaslike sakeondernemings, sakelui, ouers en manne wat so aand ondersteun nie.
“Baie dankie aan elkeen wat die geleentheid bygewoon het, deelgeneem het aan die veiling wat mnr. Tienie Olckers, die beheerliggaam se sportvoorsitter, behartig het en ook geld en items aan die veiling geskenk het.”
Volgens me. De Beer was Robbie Wessels se optrede een vir die boeke.
Hy het die mans vermaak met gunsteling-liedjies, handtekeninge uitgedeel, seker gemaak daar is paar onthoubare “selfies” en ’n leeftyd se herinneringe vir die mans wat die aand bygewoon het.
“Die winste wat uit die aand gemaak is, gaan aangewend word by Laerskool Kruinpark se sport vir toerusting en opgraderings. Elkeen se bydrae maak ’n reuse verskil. Laerskool Kruinpark is opreg dankbaar,” het me. De Beer afgesluit.




