Inwoners van Wichtstraat is gefrustreerd met vragmotors wat, volgens die inwoners, hul straat vrot ry.
“Die verkeersdepartement moet iets aan die vragmotors doen. Die pad is nie gemaak vir hulle om deur die woongebied te ry nie,” het een van die inwoners gesê.
Mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder, het gesê AfriForum herstel gereeld slaggate op Bethal, maar die pad in Wichtstraat lyk so sleg, dat hulle dit nie kan herstel nie.
“’n Groot deel van dié pad is onherstelbaar en die enigste manier om dit te herstel, is om die pad oor te bou,” het mnr. Bekker gesê.
Mnr. Donald Green, woordvoerder van Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit se span wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die paaie, is hard aan die werk om slaggate te herstel, asook om ander instandhoudings- en skoonmaakwerk te doen.
“Dié aktiwiteite word in fases gedoen, afhangende van die beskikbare begroting en bronne,” het mnr. Green gesê.
Die gebied is in drie dele ingedeel en die eerste deel sluit Bethal en eMzinoni in waar die stormwater opvangputte tans skoongemaak word, terwyl deel 2 Secunda, Evander, Trichardt, Kinross, Leandra en Lebohang insluit waar slaggate tans herstel word, asook die skoonmaak van die stormwater-opvangputte en deel 3 bestaan uit eMbalenhle en Charl Cilliers en munisipale werkers maak tans in uitbreiding 4 en 11 op eMbalenhle skoon.








