Energieke ekstrovert blaas hoog die vlam op Standerton
Herman was reeds ingeburger, en die egpaar het na deeglike besinning besluit dat die platteland die aangewese plek is, om jou kinders groot te maak.
’n Ongewone naam vir ’n ongewone vrou.
Daardie vraag moes sy al baie beantwoord.
Me. Suyen du Preez van Standerton het ’n magdom belangstellings wat deur toepaslike kwalifikasies gerugsteun word.
Sy het op ons buurdorp, Secunda, grootgeword en is destyds by Hoërskool Secunda as onderhoofmeisie met die portfolio, kultuur aangewys.
Met groot geesdrif is revues aangebied en haar energie vir danspassies benut.
Tukkies was die eerste aankomspunt waar menslike fisiologie in 2001 en 2002 studeer is en die saadjie vir optometrie ontkiem het.
Suyen het aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit haar as oogkundige bekwaam, waar haar paaie het met haar toekomstige eggenoot, Herman, gekruis het.
By die huweliksonthaal, het ’n viool op elke tafel gepryk.
“Ek het vir my pa gesê ek wil graag dié instrument op elke tafel hê,” het Suyen gesê.
“My pa het dit georganiseer.”
Haar klassieke uitrusting het sy self ontwerp en sy het op rose besluit, menige bruide se voorkeur, as ruiker.
Sy is in klavierspel opgelei en het drie Unisa-eksamens afgelê, om nie te praat van die saksofoon wat haar liefde vir jazz demonstreer.
Dié ekstrovert het ruiterlik erken dat sy haar energie van ander mense en musiek kry.
Die Du Preezs het sowat vier jaar gelede na Standerton verhuis.
Herman was reeds ingeburger en die egpaar het na deeglike besinning besluit dat die platteland die aangewese plek is om jou kinders groot te maak.
“Ons het ’n plek gesoek waar die kinders oor die heining kan klim en by die bure se kinders gaan speel.”
Nie slegs dié begeerte om hul kinders te anker op ’n dorp nie, maar ook die trauma van ’n ervaring, waar vriende se kind byna in ’n swembad verdrink het, het hulle tot nadenke gestem.
Die feit dat die kindjie breinskade opgedoen het, was die stressor om ’n stadslewe te oordink.
Suyen het ’n onderneming bedryf wat babakleertjies en -beddegoed gemaak het.
Sy kan uiteraard haarself met ’n naaimasjien help en het die gordyne vir hulle huis self gemaak.
“Die gejaag na geld in die stad het ons getref.
“Ons wou in veral mense begin belê.”
Hulle het ’n sagte landing op die dorp gehad met Herman wat hartlikheid en vriendelikheid eerstehands beleef het.
Suyen het vier kinders in die lewe gebring, drie daarvan op normale wyse nadat ’n trekkerongeluk in haar kinderjare spoke opgejaag het oor ’n bevalling.
Die keuse van name vir hulle is nie lukraak gedoen nie.
Holden is 10 en die ander se name begin almal met ’n ‘Z’ , ’n manier om hulle daagliks te seën.
Zania is 7 en die tweeling, Zaila en Zane is kleuters.
“Die geboorte van my kinders was ongetwyfeld ’n hoogtepunt in my lewe.”
Suyen is van mening dat die lewe om geloof wentel.
Met ’n stuk of vyf Bybels in die huis, word haar spiritualiteit deur The Passion Translation gevoed.
Veroordeling van ander mense en liefdeloosheid krap aan haar.
Met Standerton-inwoners wat nou kort-kort groener weivelde opsoek, het sy bloot gevra:
“Waarom kan Standerton nie ’n Clarens of Parys wees nie?
“Hier is pragtige ou geboue en mooi huise.
“Ons is geografies goed geleë.”
Haar oogkundige loopbaan gaan by ’n kliniek in Pretoria voort.
“Ek is by my gesin in die week en ry of Vrydae of Saterdae deur.”
Suyen het onlangs ook ’n kursus oor disleksie gedoen en net die internskap wag.
“Ek wil graag aan die gemeenskap teruggee en het ’n groot passie om daardie kinders te help.”
Dan bak en brou sy tussendeur, veral beskuit wat op kleinere skaal van die hand gesit word.
Die borde van geloof, hoop en liefde buite na die hek eggo Suyen du Preez se uitkyk op die lewe.







