MunicipalNewsStreeknuus

Eloff se riool-sage vloei ná vier jaar steeds voort

Nou vier jaar later, blyk die probleem egter steeds nie opgelos te wees nie en riool vloei steeds vrylik deur Taylor- en St. Georgestraat op Eloff en dam dit selfs voor die hek van Laerskool Eloff op.

Rou onverwerkte riool, daar waar kinders moet skool toe stap, huiseienaars by hul opritte moet inry en voertuie ’n pad moet gebruik.

Riooluitvloeisel vloei steeds onophoudelik en vrylik in die state van Eloff en dit voor ’n skool se hoofingang.

Soos berig in Streeknuus (29 Augustus) word die eienaars van ’n blok woonstelle op die hoek van Taylorstraat en Die Laan in Eloff vir hierdie probleem verantwoordelik gehou.

So vroeg soos 2017 het Streeknuus reeds ’n berig oor die probleem geplaas.

So vroeg as Junie 2017 het Streeknuus reeds oor die rioolprobleem op Eloff berig.

Bouplanne vir die blok woonstelle was aanvanklik goedgekeur en daarvolgens sou daar van septiese tenks gebruik gemaak word om die riooluitvloeisel te hanteer en te verwerk.

Meer woonstelle as waarvoor daar voorsiening gemaak was, is egter gebou.

’n Nabygeleë vervoermaatskappy se swaar voertuie veroorsaak glo ook skade deur van die riool pyplyne te beskadig.

Volgens me. Diane Bath, DA-raadslid by die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM), is ’n kriminele saak teen VKLM by die Sundra Polisie in Junie 2017 geopen. (Saak no.: CAS 40/08/2017).

Sy het gesê die saak was met die beheerliggaam van die woonstel opgeneem en was die probleem op daardie stadium uitgeklaar.

’n Besoek is egter weer op Woensdag, 26 Februarie 2020 gebring nadat klagtes ontvang was.

Dit is duidelik sigbaar dat daar geen verbetering in die toestand van die rou riool uitvloeisel op Eloff is nie. Dié foto is in Augustus geneem.

Me. Bath, munisipale amptenare en die munisipale gesondheidsinspekteur was deel van die geselskap wat die besoek meegemaak het.

Nou vier jaar later, blyk die probleem egter steeds nie opgelos te wees nie en riool vloei steeds vrylik deur Taylor- en St. Georgestraat op Eloff en dam dit selfs voor die hek van Laerskool Eloff op.

Met Streeknuus se besoek vandeesweek aan die strate op Eloff wat hierdeur geraak word, was die reuk van rou riool wat in die lug gehang het, byna onuithoudbaar.

Streeknuus het weer eens probeer om kommentaar van VKLM oor die groterwordende probleem te verkry, maar teen druktyd het die munisipaliteit nog nie op ons navrae reaggeer nie.

Die onbegaanbare Taylorstraat op Eloff. Dié foto is in November geneem.

Die Menseregte Kommissie (MRK) is volgens me. Bath, ook van die skending van die inwoners van Eloff se menseregte bewus en is ’n saak reeds aanhangig gemaak.

Daar sou, volgens me. Bath, reeds vir ’n geruime tyd beplan word om die blok woonstelle se riool by VKLM se hoofrioolpyp te laat aansluit.

Die eienaars van die woonstelblok sou dan vir die koste van die aansluiting verantwoordelik gehou word.

Dié beplanning kom egter al ’n geruime tyd en daar blyk nie veel gedoen word in die uitvoering van die plan nie.

Rou riool pomp by ’n mangat in Taylorstraat op Eloff uit. Dié foto is in November geneem.

VKLM se interim oplossing sou wees om slote langs die pad te grawe en die riool daarin te laat vryloop.

Intussen worstel inwoners van die onmiddellike omgewing en ook die laerskool voort met die stank, sowel as die aansig van groen riool in die betrokke strate.

Inwoners van Taylorstraat se enigste toegang tot hul wonings is deur poele riool.

“Daar is ’n plan van aksie, maar die munisipaliteit kon tot dusver nie aan my ’n tydraam bekend maak nie. Die munisipale bestuurder is ook deeglik bewus van die voortslepende probleem,” het me. Bath Streeknuus meegedeel.

Vir die inwoners klink elke onderneming van VKLM oor die afgelope vier jaar egter na leë beloftes.

Onverwerkte riool vloei vrylik in Taylorstraat op Eloff. Dié foto is in November geneem.

Mnr. André Gildenhuys het ’n video aan Streeknuus gestuur waarin duidelik gesien kan word hoe ’n sterk stroom rou riool vanuit ’n mangat in Taylorstraat borrel.

“Dit was eens ’n teerstraat, en dit voor Laerskool Eloff. Wat en wanneer gaan iets hieromtrent gedoen word, dit kan nié so aangaan nie,” het mnr. Gildenhuys laat hoor.

Die rioolstorting kom neer op growwe nalatigheid en die skending van Eloff-inwoners se basiese menseregte,” het me. Bath gesê.

Me. Bath het Streeknuus, kort voor druktyd, meegedeel dat ’n besoek deur die MRK vir Dinsdag, 16 November beplan is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button